Luncheon on the grass: Hierdie skildery deur Manet is een van die beroemdste beelde van die 19de eeu. Dit is geweldig aangeval deur die kritici en die publiek tydens die Salon de Refuses. Dit beeld ’n piekniek in ’n woud uit waarin daar ’n sittende naakfiguur van ’n vrou teenwoordig is, asook jong mans wat al hulle klere aanhet. Die mans is klaarblyklik diep in gesprek, en ignoreer die vrou. Voor hulle word die vrou se klere, ’n mandjie vrugte en ’n ronde stuk brood uitgebeeld, soos in ’n stillewe. In die agtergrond was ’n vrou met min klere aan in ’n stroom. Sy lyk te groot in vergelyking met die figure in die voorgrond en dit kom voor asof sy bo hulle dryf. Die werk het gesiene mense van daardie tyd geskok, omdat dit ’n kontemporêre naakfiguur was wat saam met twee ten volle geklede mans middagete geniet het. Die figure was bekend en het Manet se gunstelingmodel as die naakfiguur en ook sy broer uitgebeeld. Die “tentoonstelling” van naaktheid in ’n kontemporêre omgewing is as immoreel beskou. Naaktheid in kuns was slegs aanvaarbaar indien dit op ’n geskikte afstand van die ware lewe af was, deur dit in ’n mitologiese konteks te plaas. ’n Naakfiguur wat Venus uitgebeeld het, was aanvaarbaar, maar nie van ’n gewone vrou van daardie tydperk nie. Die grof geskilderde agtergrond toon ’n gebrek aan diepte – wat die kyker die indruk gee dat die toneel nie buite plaasvind nie, maar in ’n ateljee. Die styl van die skildery breek weg van die akademiese tradisies van daardie tyd. Manet het nie probeer om die kwashale weg te steek nie en in sommige tonele lyk die skildery nog onvoltooid. Afgesien daarvan dat Manet dikwels beskou word as ’n leier vir die Impressioniste en ongeag daarvan dat hy gesosialiseer het met Monet, Renoir, Sisley en Pisarro, het hy nooit afstand gedoen van sy liberale gebruik van swart as ’n kleur nie, en het nooit deelgeneem aan die Impressionistiese uitstallings nie. Alhoewel Manet eienskappe met Realisme in gemeen het, het hy die res van die Impressioniste beïnvloed met sy radikale gebruik van sterk, plat kleur, gebroke kwashale, harde natuurlike beligting en die vars voorkoms van sy skilderye. Hierdie is ’n visuele manifestasie van die reg en vryheid van die kunstenaar om enigiets te kies vir estetiese effek. (Die begin van “kuns vir kuns se onthalwe”).
A bar at the Folies-Bergère: Na 1870 het Manet die Impressionistiese palet en tegniek aangeneem. Sy skilderye het ligter, vryer en meer kleurvol geword. Dit is sy finale meesterstuk in volledige Impressionistiese styl – ’n werk onoortreflik in die 19de eeu vir suiwer rykheid en skoonheid van tegniek. ’n Toneel uit die kontemporêre lewe word as ’n vlietende oomblik uitgebeeld. Die Folies-Bergère was ’n Paryse nagklub met musiek, sirkustoertjies en ander vermaak. Die sentrale figuur, die kroegmeisie, staan alleen in ’n stampvol vertrek. Sy het ’n afgetrokke uitdrukking op haar gesig en sy konsentreer nie op haar werk as kroegmeisie in die groot, oorvol kamer nie – dit word in die spieël agter haar uitgebeeld. Sy is ’n gewone
VISUELE KUNSTE GRAAD 11
ÉDOUARD MANET, LUNCHEON ON THE GRASS (LE DEJÈUNER SUR L’HERBE), 1862. OLIE OP DOEK