Nie al die kunstenaars se werk kan as aksie- skilder beskryf word nie. Die ander bekende kritikus van daardie tyd, Clement Greenberg, het gevoel dat moderne kuns verander het volgens formele aspekte. Die idee van Kleurveld- skilder was ’n tendens om kleur aan te wend op uitgebreide areas of velde. Dit is gesien in die werke van kunstenaars soos Rothko, Still en Newman. Hulle het daarna gestreef om enige motiewe te verwyder wat assossiasies kon ontlok. Abstrakte vorm en ekspressiewe kleur is gebruik om op ’n onmiddellike manier met die kyker te kommunikeer.
NEWMAN. VIR HEROICUS SUBLIMUS. 1950 – 1951. OLIE OP DOEK
Karaktertrekke van Abstrakte Ekspressionisme
• Onderwerp: Hulle het weggebreek van konvensionele naturalistiese onderwerpe en het hoofsaaklik abstrakte werke geskep waarin die fisieke aksie van skilder, die merke van verf op die doek en die groot oppervlaktes kleur sentraal daarvan geword het om ’n eerlike selfondersoek oor te dra van ’n kunstenaar se persoonlike ondervindings wat afgelei word uit die onderbewuste.
• Komposisie: Meeste van die kunstenaars het die hele doek gevul met ’n nie- verteenwoordigende komposisie. Die komposisies van die aksie-kunstenaars het nie ’n sentrale motief gehad nie. Hulle het van die tradisionele idee van komposisie afgesien in terme van die verhouding tussen die onderliggende dele. Die skilderye is gevul met ekspressiewe kwashale wat beweging regoor die doek skep – wat kon voortduur verby die rand van die raam. Die term oral- oor komposisie word vir so ’n werk gebruik. Die Kleurveld-kunstenaars het werke geskep waarin komposisies meer gestruktureerd was en geometriese of organiese vorms ’n sekere fokale punt geskep het.
• Die twee dimensionele karakter-platheid van die skilderdoek is deur alle Abstrakte Ekspressioniste beklemtoon. Enige bewuste verwysing na drie dimensionaliteit word vermy, selfs al skep die lae verf die effek van diepte deur die oorvleueling van merke en kleurareas.
• Vorms: Die vorms wat geskep is op die doek is bedoel om geïnterpreteer te word as kwashale, drupwerk of geometriese oppervlakke van kleur wat verdeel is deur kleiner geometriese oppervlakke van ander kleure. Dit verwys nie na enigiets herkenbaar behalwe verf op doek nie.
• Aanwending: Die aanwending van verf deur die aksie-kunstenaars was vol beweging en aggressief. Elke kwasmerk is soos die “handskrif ” van die kunstenaar, wat ons vertel van sy emosies en sy ondervindings.
• Die Colourfield-kunstenaars se werke was nie so vol beweging nie, alhoewel die teksture van kwashale in die werke van kunstenaars soos Mark Rothko en Clifford Still sigbaar was. Newman se werke het geen teken van tekstuur gewys nie omdat hy plat kleuroppervlakke geskilder het.
• Kleur: Hulle gebruik van kleur het oor die algemeen nie na die visuele werklikheid verwys nie. Dit is slegs in De Kooning se werke waar die verwysing na vlees in sy gebruik van kleur herhaal word. Die gebruik van kleur was baie belangrik vir die Kleurveld-kunstenaars, wat die nie-figuratiewe kleuroppervlakke beskou het as uitdrukkings van die idees van transendensie en die oneindige.
• Abstrakte Ekspressionisme is as tipies Amerikaans beskou omdat al die kunswerke reusagtig van skaal was, wat ’n romantiese atmosfeer oorgedra het van robuuste individuele vryheid en die yslike ruimte van hierdie land.