Franz Marc (1880 –1916) was een van die stigterslede van Der Blaue Reiter. Hy het tydens die Slag van Verdun in die Eerste Wêreldoorlog gesterf.
“Vandag soek ons na dinge in die natuur wat weggesteek is agter die sluier van voorkoms … Ons kyk vir en skilder hierdie binneste, spirituele
kant van die natuur.” - Franz Marc
FRANZ MARC, BLUE HORSES, 1911. OLIE OP DOEK
Marc was die mees romantiese van die Duitse Ekspressionistise skilders. Hy wou hê dat sy skilderye die kontras van die werklikheid van die mens se lewe uitbeeld met die natuurlike skoonheid van die dierewêreld. Hy het die harmonie waarna hy gesoek het uit die natuur verkry. Hy was ’n panteïs en daarom is die dier beskou as ’n simbool van onskuld en goedheid. Die dier is dus ’n simbool van die utopie wat die mens verloor het. Die drie briljante blou perde is soos beelde gemodelleer en dit kontrasteer met die helder rooi, groen en geel van die landskap.
WIE WAS KANDINSKY?
Wassily Kandinsky (1866 – 1944) is in Rusland gebore en het regte in Moskou studeer. Hy is na München toe voordat hy op die ouderdom van 30 ’n skilder geword het. Hy was een van die stigters van Der Blaue Reiter. Hy het later vanaf 1922 klas gegee by die Bauhaus Skool totdat die Nazis dit in 1933 gesluit het. Daarna het hy na Frankryk toe getrek, waar hy die res van sy lewe deurgebring het.
“Van al die kunste is abstrakte skilder die moeilikste. Dit vereis dat jy moet weet hoe om goed te teken, dat jy ’n verhoogde sensitiwiteit het vir komposisie en vir kleur en dat jy ’n ware digter is. Hierdie laaste deel is noodsaaklik.” - Wassily Kandinsky
Marc het ’n baie digby aangesig gebruik, en die liggame van die perde vul die grootste deel van die doek. Hy het sy kleure as simbolies beskou: blou was manlik, spiritueel en simbolies van hoop; geel was vroulik, saggeaard, rustig en sensueel; en rooi het die aarde uitgebeeld, brutaal en swaar. Die horison is hoog; die boë van die rooi heuwels herhaal die lyne van die perde se lieste. Alhoewel die modellering van die perde aan hulle die effek gee van beeldhou-reliëf, is daar nie ware ruimte- verskille tussen die diere en die omgewing nie.