Walter Gropius (1883-1969) het geglo dat “vorm funksie volg”, wat beteken dat die vorm van die gebou afgelei word van sy funksie. ’n Mens moet kan sê waarvoor ’n gebou gebruik word deur na die buitekant daarvan te kyk. Saam met Adolf Meyer het hy die “glasvel” en die “gordynmuur” ontwikkel in die Fagus-skoenfabriek, 1911 – 1916.
“Argitektuur begin waar ingenieurswese eindig.” – Walter Gropius
WALTER GROPIUS, BAUHAUS-GEBOUE, DESSAU, DUITSLAND, 1925.
Toe die Bauhaus-skool in 1925 na Dessau toe geskuif het, het Walter Gropius die nuwe geboue ontwerp wat vir baie jare die model geword het vir geboue van die Moderne beweging. Die Bauhaus van Dessau het bestaan uit twee blokke wat verbind is deur ’n ingeslote brug. Hierdie twee geboue het lesingvertrekke, werkswinkels, studenteverblyf, ’n eetsaal, ’n teater, ’n gimnasium en die kantore van Gropius se argitekturele praktyk ingesluit. Die geraamte van die gebou was gewapende beton, terwyl een kant van die werkswinkel bestaan het uit ’n gordynmuur wat uit glas bestaan het. Die dak was plat, en bedek met ’n nuwe waterbestande materiaal. Die geboue was treffend weens hulle klem op funksionaliteit en weens die gebrek aan versiering. Gropius het daarop aangedring dat
die funksie van ’n gebou sy vorm moes bepaal. Hierdie funksionele kwaliteit moes nie deur enige oppervlaksversiering ‘vermom’ word nie. Gropius het die ateljees, klaskamers en administratiewe spasie geskep vir maksimum effektiwiteit en het regdeur die gebou ruimtelike logika gebruik. Die gebou het baie kenmerke wat later eienskappe van modernistiese argitektuur geword het, soos die insluiting van ’n staalraamkonstruksie, ’n gordymuur wat uit glas bestaan het en gewapende beton. Die skoon lyne en blokagtige strukture het tipes Modernisme geword.
Hierdie taamlike strak geboue van die Bauhaus het die prototipe-geboue van die Internasionale Styl geword.