• Komposisie: Die rangskikking van die geometriese vorms in verhouding tot die ruimte daarom en, indien meer as een vorm in die beeldhouwerk gebruik is, is dit beskou as ’n baie belangrike aspek van die kunswerk wat met presisie vooruit beplan moes word. Die gebruik van simmetrie en herhaling is tipies van Minimalistiese kuns.
• Vorms: Die Minimaliste het eenvoudige, eenvormige geometriese vorms gebruik wat meestal drie dimensioneel was.
• Media: Meeste van die kunstenaars het industriële materiale soos gegalvaniseerde yster, koue gewalste staal, neonbuise, bakstene, Styrofoam-blokke, koperplate, leiklip, voorafgevormde hout en industriële verf gebruik.
• Aanwending: In hulle soeke om die oorbeklemtoonde waarde teen te staan wat toegeskryf is aan die individuele maak van merke deur die Abstrakte Ekspressioniste, het die Minimaliste se werke nie enige tekens van hulle persoonlike kenmerke gewys nie. Die werkmanskap in hulle kuns was neutraal en kon deur enigiemand uitgevoer word. In sekere gevalle was die materiaal klaargemaakte items wat in ’n fabriek geskep is en deur die kunstenaar aangekoop is.
• Kleur: Die oorspronklike kleur van die media waarvan die kunswerk gemaak is, is gewoonlik gebruik en daarom het neutrale kleure wat geassosieer is met verskeie metale en hout dikwels voorgekom. Wanneer kunstenaars die kleure verander het, het hulle neutrale grys, swart of wit gebruik. Die kunstenaars wie se gebruik van kleure verskil het, was Stella, wat beeldhouagtige skilderye gemaak het; en Flavin, wat uiteenlopende soorte neonligte gebruik het.