• Onderwerp: Die aard van kuns word bevraagteken deur die proses van beplanning of besluitneming. Anders as Minimalisme, wat ook die aard van kuns bevraagteken het, het Konseptuele Kuns ’n sterk sosio-politieke agtergrond wat in kunswerke gemanifesteer is wat ontevredenheid met die samelewing en regeringsbeleide getoon het.
• Die verwerping van tradisionele kunsvorms en aanbieding het gelei tot die vervaging van grense tussen kuns en die alledaagse namate kunstenaars opgehou het om tradisionele galeryspasie te gebruik vir die uitstal van hulle kunswerke deur die gebruik van opvoering, video, die aarde of boeke as mediums en onderwerpe.
• Die rol van die kunstenaar en die kyker word tydens hierdie bevraagtekeningsproses verander. Die kunstenaar is die stigter, interpreteerder en soms die regter, terwyl die kyker soms die kunswerk moet voltooi.
MARCEL BROODTHAERS, FEMUR OF A BELGIAN MAN AND FEMUR OF A FRENCH WOMAN, 1965 – 1965. ALBEI IS GEVERF IN DIE VLAE VAN HULLE OOREENSTEMMENDE LANDE. SOOS IN HIERDIE WERK, DRYF BAIE VAN SY WERKE DIE SPOT MET DIE ABSURDITEIT VAN DIE IDEE VAN NASIONALISME.
ON KAWARA, TODAY SERIES, 1989. KAWARA SE TODAY SERIES IS ’N AANEENLOPENDE OPEENVOLGING VAN KONSEPTUELE SKILDERYE WAT IN 1966 BEGIN IS. ELKEEN VAN HULLE IS GESKEP MET DIE DATUM WAT AANGEDUI WORD IN DIE TAAL VAN DIE LAND WAARIN DIT GESKILDER IS. ELKE SKILDERY NEEM DIE KUNSTENAAR TUSSEN AGT EN NEGE URE OM TE VOLTOOI – ’N VOL DAG SE WERK. ELKE VOORWERP IS ’N LETTERLIKE WEERSPIEËLING VAN ’N DAG IN DIE KUNSTENAAR SE LEWE.
WIE IS KOSUTH?
“Om nou ’n kunstenaar te wees, beteken om die aard van kuns te bevraagteken. As jy die aard van skilder bevraagteken, kan ’n mens nie die aard van kuns bevraagteken nie … Dit is omdat die woord ‘kuns’ algemeen is en die woord ‘skildery’ spesifiek is. Skilder is ’n soort kuns. Indien jy skilderye maak, aanvaar jy reeds (nie bevraagteken) die aard van kuns.” – Joseph Kosuth
Joseph Kosuth (31 Januarie 1945 - ) Hierdie pionier van Konseptuele Kuns het ontwerp, skilder, antropologie en filosofie by verskeie institusies studeer. Sy installasies en geskrewe publikasies is filosofiese navrae oor die verhouding tussen taal en kuns. Kosuth en verskeie ander kunstenaars het ’n aanval op konvensionele estetika geloods. Die gebruik van woorde in plaas van beelde en voorwerpe het gelei tot intellektuele uitlokking. In plaas daarvan om net na ’n kunswerk te kyk, moet die kyker besluit oor die betekenis en aard van kuns op ’n konseptuele manier. Hierdie was die bron van ’n houding wat die klem wat geplaas is op die idee dat kuns eenvoudig ’n sekere betekenis moes kommunikeer bevraagteken het, en eerder die denkprosesse wat agter die betekenis van die kunswerke lê, ondersoek.