Eienskappe • Konseptuele Kuns is ’n dialoog met die kyker oor idees en daarom is die gebruik van taal as die oorsprong van kuns ’n sentrale deel daarvan. Die onderwerp spreek ’n wye reeks inligting, onderwerpe en bekommernisse aan wat nie maklik vasgevang kan word in een voorwerp nie en daarom meer geskik oorgedra word deur geskrewe voorstelle, foto’s, dokumente, kaarte, film, video, die kunstenaar se eie liggaam en taal self. Verskillende name word gegee aan verwante tendense en / of subverdelings. Dit is moeilik om werk onder die volgende opskrifte te plaas: Lyfkuns, Uitvoerende Kuns, Installasiekuns, Land- of Aardkuns of Videokuns. ’n Kunswerk kan dikwels in meer as een van hierdie kategorieë geplaas word.
• Tradisionele karaktertrekke van kuns soos die gebruik van kleur, uitbeelding van vorms, aanwending van media en die tradisionele idees oor komposisie is nie toepaslik op Konseptuele Kuns nie.
• Onderwerpe en die gebruik van media is die twee dominerende aspekte wat aangespreek word deur Konseptuele Kuns, terwyl komposisie ’n aspek is wat sommige kunstenaars in gedagte hou wanneer hulle voorwerpe of gedrukte woorde in ’n uitstalspasie plaas.
• Die fisieke voorwerp, soos in tradisionele skilder en beeldhouwerk, is nie so belangrik as die idee of die konsep van die kunstenaar nie. Een van die vroeë Konseptuele kunstenaars, Lawrence Weiner, het opgehou om fisieke werke van kuns te maak. Die doel van hierdie praktyk was om die moontlikhede te skep vir wat kuns behoort te wees – nie om te dikteer dat dit een ding of ’n ander moet wees nie.
• Woorde en taal het net so belangrik vir kunswerke geword as beelde. Konseptuele Kuns is op die intellek eerder as die visuele ondervinding gebaseer. ’n Groep kunstenaars wat ’n tydskrif, Art-Language, gepubliseer het, het ook die idee uitgedaag dat kunswerk ’n fisieke voorwerp moet wees. Dit het bygedra tot die dematerialisasie van die kunsvoorwerp.
• Die kommodifikasie van kuns is ook verwerp. • ’n Konseptuele kunswerk kon ervaar word deur die beskrywing daarvan en kon eindeloos herhaal word, sonder enige uniekheid.
• Spore van die outeurskap van die kunstenaar is verwyder in die gebruik van die nuwe media. Die doel van die kunstenaar was nou belangriker as die uitvoering daarvan. Lewe en kuns is geïntegreer in die kunswerke wat gelei het tot ’n paradoks soos kuns onpersoonlik geword het, hoewel dit op ’n persoonlike konsep gefokus het.
ROBERT RAUSCHENBERG, ERASED DE KOONING DRAWING, 1953. DIE DAAD OM DIE TEKENING DEUR DE KOONING UIT TE VEE WAS UITVOERENDE KUNS EN DIT HET GELEI TOT ’N KONSEPTUELE WERK. DIT IS NOODSAAKLIK DAT JY WEET DAT
DAAR WERKLIK ’N DE KOONING-TEKENING WAS EN DAT DIT UITGEVEE IS MET DIE KUNSTENAAR SE TOESTEMMING.
DIE VOORBLAD VAN DIE INVLOEDRYKE
JOERNAAL VAN KONSEPTUELE KUNS, ART- LANGUAGE, VOLUME 3, NOMMER 4, 1974. DIT IS IN LONDEN EN NEW YORK GEPUBLISEER. DIE GROEP KUNSTENAARS WAT TOT DIE JOERNAAL
BYGEDRA HET, HET ’N KRITIEKE ANALISE VAN DIE VERHOUDING TUSSEN KUNS, SAMELEWING EN POLITIEK VOORGESTEL.