4 Henri Toulouse-Lautrec HENRI TOULOUSE-LAUTREC (1864 – 1882)
“Ek skilder goed soos hulle is. Ek lewer nie kommentaar nie. Ek teken aan.” – Toulouse-Lautrec
Henri Toulouse-Lautrec was die seun van ’n aristokraat. As kind het Toulouse- Lautrec dikwels sy bene gebreek, wat sy groei beperk het. Ten spyte van sy aristokratiese agtergrond, het die dwergagtige Toulouse-Lautrec sy lewe in nagklubs, danssale en in bordele deurgebring. Hy het die boheemse lewenstyl uitgebeeld met sy weerspieëling van bordele en nagklubs. Hy wys ons die harde werklikheid van die onderwêreld van sy tyd. Hy is jonk dood weens sy uitspattige lewenstyl. Alhoewel baie kritici hom saamgroepeer het met die Impressioniste, klassifiseer baie ander hom as Post-Impressionisties vir sy styl en die donker, meer satiriese inhoud van sy werk.
Die Moulin Rouge (Rooi Meule) is ’n nagklub wat in 1889 in Parys gebou is en wat gekenmerk is deur die rooi windmeul op die dak (links onder). Die Moulin Rouge het die dans, die cancan, beroemd gemaak. Aan die einde van die 19de eeu, het die plakkaat ’n belangrike manier geword om goed te adverteer. Toulouse-Lautrec is bekend vir sy innovasie om die plakkaat te vereenvoudig. In hierdie plakkaat (middel onder) vir die Moulin Rouge, het hy die gehoor saamgesmelt in ’n enkelsilhoeët en beklemtoon hy die twee vermaaklikheidskunstenaars op die voorgrond.
HENRI TOULOUSE-LAUTREC, AT THE MOULIN ROUGE, 1892
Soos in al sy werke is daar ’n sterk outobiografiese element in die werk (regs). Hy beeld sy vriende uit en sy figuur verskyn saam met die van sy lang neef. Die komposisie herinner aan Japannese afdrukke met die sterk, diagonale reling wat help om die toneel in die rigting van die kyker te draai. Die kleure is aards – roesbruine, goue kleure en swart in kontras met die groen wat in die spieëls en in die gesig van die vrou uitgebeeld word. Sy werk word gekenmerk deur eenvoud van lyn, dramatiese kleur en plat vorms.