Die konsep “ekspressionisme” is ’n permanente tendens in kuns. Die kunstenaar beeld sy eie emosionele reaksie op ’n hoogs individuele styl uit waar ’n vrye verwringing van vorm en kleur plaasvind. Ekspressionisme het dikwels in tye van spanning posgevat, toe die individu sy eie gevoelens wou uitdruk. Ekspressionisme met ’n hoofletter is die spesifieke Duitse kuns van die vroeë 20ste eeu.
Invloede op Ekspressionisme
• Van Gogh: as die tipiese ekspressionistiese kunstenaar het hy volgens sy subjektiewe gevoelens gewerk en het ’n sterk invloed op Duitse Ekspressionisme gehad. Sy passievolle verwringing van die natuur, sterk gebruik van kleur, liniêre kwaswerk en deernis vir sy medemens het die Ekspressioniste beïnvloed.
• Nie-Westerse kulture was ook invloedryk, aangesien die Ekspressioniste hierdie kunste beskou het sonder die oppervlakkigheid van Westerse kuns. Afrikamaskers was ’n belangrike invloed, omdat daar gevoel is dat hulle in ’n suiwerder samelewing geskep is. Die Ekspressioniste is ook beïnvloed deur die kuns van kinders en die geestesiekes wat ’n direkte emosie uitdruk.
• Die Germaanse karakter: Ekspressionistiese kuns regdeur die eeue is sigbaar in Germaanse lande weens ’n inherente karakter om iets agter voorkomste op te spoor. Franse kuns, aan die ander kant, was meer betrokke by voorkomste en die suiwer oplossing van formele elemente soos wat in Impressionisme en Kubisme voorkom. Daar was byvoorbeeld nie ’n ware impressionistiese tradisie in Duitsland nie. Kunstenaars uit die geskiedenis soos Dürer en Grünewaldt is voorbeelde van emosionele ekspressioniste en die Duitse Ekspressioniste het op hierdie tradisie voortgebou. Duitse geskiedenis in die 20ste eeu is een van spanning en verdeeldheid. Die onstabiele politieke, sosiale en ekonomiese klimaat voor die Eerste Wêreldoorlog was dus ’n uitstekende teelarea vir ekspressionisme.
• Edvard Munch was ook ’n belangrike invloed weens sy gewelddadige verwringing van kleur en vorm om uiting te gee aan emosionele toestande.
Duitse Ekspessionisme kan in twee groepe ingedeel word: • Die Brücke • Der Blaue Reiter
“Die Duitsers is regtig ’n vreemde klomp. Hulle maak die lewe on- nodig moeilik vir hulself deur na diep gedagtes te soek en dit op alles toe te pas.” - Goethe