Autumn Rhythm verteenwoordig die styl wat die aandag van die res van die kunswêreld en die algemene publiek getrek het na Pollock se eerste solo-uitstalling in 1950. Die kunstenaar het rondom die onvoorbereide, ongestrekte doek op die vloer beweeg terwyl hy pigment oor die doek gegooi, gedruk, gedribbel, benewel, en gespat het. Dié ongewone skilderteg- niek is van kant tot kant op die doek aangewend en die werk is klaarblyklik sonder begin of einde. Hierdie wegbreek van die tradisionele idee van die skildery as ’n eenheid is deel van die Abstrakte Ekspressioniste se bydrae. Hulle skilderye het meer soos ’n omgewing geword wat die kyker omring het. ’n Direkte ontmoeting met Autumn Rhythm as ’n voorwerp met sy spesifieke skaal, kleur, tekstuur en fisieke teenwoordigheid is noodsaaklik. Wanneer die kyker nader aan die skildery staan, is die visuele effek soortgelyk daaraan as om na iets te kyk wat mikroskopies vergroot is en wanneer die kyker verder weg daarvan staan, is dit soos om deur ’n teleskoop na die heelal te kyk. Die doolhofagtige netwerk van lyne, spatsels en verfdruppe skep ’n ritmiese palimpses van patrone wat ’n aantekening is van die proses van die skepping van die werk. Alhoewel die proses nie vooraf beplan was nie en spontaan gebeur het, het Pollock self gesê dat hy die vloei van die verf beheer het en dat niks per ongeluk gebeur nie. Die titel, kleur en horisontale oriëntasie van hierdie skildery ontlok die idee van die natuur.
JACKSON POLLOCK. BLUE POLES: NUMBER 11. 1952. OLIE OP DOEK
JACKSON POLLOCK. NUMBER 1 (LAVENDER MIST). 1950. ALKIEDEMALJES OP DOEK