Wetenskap en kleur Die Impressioniste het nie volgens wetenskaplike reëls gewerk nie, maar hulle moes bewus gewees het van sommige van die wetenskaplike ontdekkings wat in gewilde brosjures gepubliseer is. Chevreul, ’n Franse apteker, het die Impressionisme grootliks beïnvloed. Kleure wat naby aan mekaar gebruik word, beïnvloed en verander mekaar. ’n Kleur wat op sy eie gebruik word, lyk of dit omring word deur ’n dowwe stralekrans van sy komplementêre kleur. Vanaf ’n afstand, kom die twee verskillende “kleurdrade” as een kleur voor.
Die rol van die kamera Teen 1850 was die kamera algemeen in gebruik. Daardie vroeë glasplaatfoto’s met hulle wasige effek wanneer bewegende onderwerpe afgeneem is, het die Impressioniste beïnvloed. Die Impressioniste het soms foto’s as ’n basis vir hulle skilderye gebruik. Impressionistiese skilderye verteenwoordig dikwels ’n spontane toneel uit die alledaagse lewe (kiekie) en mense en voorwerpe beweeg uit die raam uit. Met ander woorde, die raam knip die toneel kort. Hierdie is ’n belangrike element van die Impressioniste se werk en beklemtoon die spontaneïteit van hulle skilderye. In vroeër style is ’n beplande, saamgestelde toneel geskilder. Die Impressioniste, soos die kamera, wou ’n oomblik in tyd vasvang. Fotografie het die Impressioniste geïnspireer om tydelike aksie te uit te beeld, nie slegs in die vlietende ligte van ’n landskap nie, maar in die daaglikse lewens van mense.
AUGUSTE RENOIR, LE LOGE, 1974. OLIE OP DOEK
Japannese afdrukke Teen die 1860’s het Japannese afdrukke, wat oorspronklik na Frankryk gestuur is as geskenkpapier vir ingevoerde goedere, het die Weste bereik en het daarna ’n geweldige invloed op kunstenaars gehad. Die kuns van hierdie afdrukke het grootliks bygedra tot die “kiekie”-hoeke en onkonvensionele komposisies wat karakteriserend van hierdie styl sou word. Hierdie karaktertrekke sluit in die asimetriese komposisie (Degas), dekoratiewe kleur-areas (Toulouse-Lautrec) en die informele tonele van die alledaagse lewe.