De Stijl was ’n beweging wat begin is deur Theo van Doesburg en Piet Mondrian om hulle gebruik van geometriese, abstrakte vorms en die gebruik van primêre kleure, gebaseer op die idee van universele harmonie, te bevorder. Hulle idees na argitektuur en ontwerp asook skilderkuns betrek. Hulle het geglo dat hulle kon help om orde en sosiale harmonie te skep deur balans en harmonie in werke van kuns en argitektuur aan die samelewing te bied. De Stijl het begin teen die agtergrond van die Eerste Wêreldoorlog in neutrale Holland. De Stijl was gekant teen individualisme en het geglo dat samehorigheid in harmonie die weg kon baan tot ’n Utopiese toekoms. Hulle was gekant teen enige vorm van tradisie en het geglo in balans, harmonie, orde, logika en suiwerheid. Argitekturele ruimte is gerangskik volgens ’n stelsel om funksie en harmonie te skep. De Stijl se kunstenare en argitekte het ’n groot invloed gehad op die ontwikkeling van die Internasionale Styl van argitektuur.
Die Schroder-huis is ’n klein, losstaande voorstedelike huis, maar dit is byna ’n drie-dimensionele uitbeelding van ’n skildery deur Mondrian. Baie van die huis se kenmerke is ’n voorspelling van die woordeskat van argitektuur wat by die Bauhaus onderrig sou word. Dit het later bekend gestaan as die Internasionale Styl van argitektuur. Eienskappe van hierdie huis is die plat dak, kubieke vorms, gebrek aan versiering, dakplate wat oor die hoeke hang, groot vensters in aaneenlopende horisontale stroke en ’n oop, gewiglose kwaliteit. Die kleure is tipies van De Stijl. Die oppervlakke is in wit en skakerings van grys. Swart is gebruik vir die venster- en deurrame, en verskeie liniêre elemente is in primêre kleure geverf.
Die belanrikheid van Bauhaus In 1919 is Walter Gropius aangestel as die direkteur van die Weimar Skool van Kunste en Handwerk in Duitsland, wat hy Das Staatliche Bauhaus herdoop het. Bauhaus is afkomstig van twee Duitse woorde: “om te bou” en “huis”. Sy eerste doelwit was om die kwaliteit van ontwerpe vir industriële goedere te verbeter. Bauhaus wou ’n nuwe eenvormigheid tussen kuns en tegnologie bereik. Die idee van basiese ontwerp is ontwikkel om dit aan te wend as ’n wetenskaplike metode in kuns, waar kunsprodukte afgebreek kon word tot hulle mees basiese elemente, soos die kubus (blokkie), sfeer en silinder. Sommige van die invloedrykste kunstenaars van die 20ste eeu het by die Bauhaus onderrig gegee, soos Paul Klee en Wassily Kandinsky. Die interaksie tussen materiaal, vaardigheid en die produk se funksionaliteit was van die grootste belang.
VISUELE KUNSTE GRAAD 11
GERRIT
RIETVELD, SCHRODER
HUIS, UTRECHT, HOLLAND, 1922.
Gropius is in 1928 opgevolg deur die Switserse argitek Hannes Meyer, wie se werk probeer het om ’n harmonieuse en sosialistiese samelewing te vorm. Ondanks sy suksesse is Meyer in 1930 uit sy pos verwyder weens sy Marxistiese oortuigings en hy is opgevolg deur Ludwig Mies van der Rohe. Mies van der Rohe het daarop gekonsentreer om argitekte op te lei. In 1933, toe die Nazi’s aan bewind gekom het, het Hitler die Bauhaus forseer om te sluit. Gropius en Mies van der Rohe het na die VSA toe geëmigreer, waar hulle argitektuur aan universiteite onderrig het, en dus verseker het dat die beginsels van die Bauhaus-styl van argitektuur wêreldwyd bekend geword het. Die argitektuur styl wat bekend gestel is deur die onderwysers by die Bauhaus het as Modernisme bekend gestaan.