Die kwessie van identiteit is ’n belangrike kwessie in kontemporêre internasionale en Suid-Afrikaanse kuns. Identiteit weerkaats op die individualiteit, die uniekheid en die eienskappe van die self en / of ’n groep. Die groep kan ’n informele verbintenis wees van mense wat dieselfde belange en bekom- mernisse het en / of gebaseer word op erfenis, taal, nasionaliteit, ensovoorts.
“My verkenning deur my kuns van die verhouding tussen myself en die natuur is as gevolg van die feit dat ek tydens adolossensie weggeruk is uit my tuisland. Die maak van my silueta in die natuur maak die oorgang tussen my tuisland en my nuwe huis makliker. Dit is ’n manier om my wortels terug te kry en om een met die natuur te word. Hoewel die kultuur waarin ek woon, deel van my is, is my wortels en kulturele identiteit ’n gevolg van my Kubaanse erfenis.” – Ana Mendieta.
ANA MENDIETA, FROM THE SILUETA-SERIES, 1973 – 1977.
Ana Mendieta (1948 – 1985) is uit haar vaderland, Kuba, na ’n weeshuis in Amerika gestuur toe sy 12 jaar oud was. Dit was ’n traumatiese ondervinding en het haar skepping van kuns beïnvloed. In haar Silueta-reeks het sy haar eie figuur in die aarde ingekerf en gevorm om spookagtige spore van haar liggaam te laat wat geskep is uit blomme, modder, boomtakke en ander natuurlike materiale. Hierdie was privaat beeldhouagtige “performances” wat sy in foto’s gedokumenteer het. Vir haar was hierdie interaksies met die kuns en die natuur ’n manier om haar verplasing uit haar tuisland te hanteer.
In hierdie werke het sy die aarde verken en daarmee verbind terwyl sy die prehistoriese aardgodin herroep. Dus lewer sy ook kommentaar op die posisie van die vrou. Haar postuur in hierdie werke is belangrik. Byvoorbeeld, met arms wat oor haar kop gehou word, verteenwoordig sy die samesmelting van die aarde en die lug. Met haar arms gelig en haar bene bymekaar stel sy ’n wandelende siel voor. In hierdie aard- liggaam-beeldhouwerke kombineer Mendieta lyfkuns, uitvoerende kuns, landkuns, videokuns en fotografie.
VISUELE KUNSTE GRAAD 11
ANA MENDIETA, FROM THE SILUETA-SERIES, 1973 – 1977.