Temas Die Impressioniste het alledaagse tonele geskilder. Die benadering van die Impressioniste het hulle keuse van onderwerpe bepaal – sonnige strate en landskappe (dikwels met water), blomtuine en opelugkafees met ’n paar binnenshuise tonele. Die joie-de-vivre van die lewe is kenmerkend van hulle werk. Die wereld van die Impressionisme was vol vreugde.
Kleur en lig Die Impressioniste het buite gewerk en hulle inspirasie direk uit die natuur gekry. Hulle het nuwe feite aangeleer oor lig, kleur en die atmosfeer. Hulle het probeer om pigment so na as moontlik aan die kleur in sonlig te kry. • Hulle het kleure so min as moontlik op hulle palette gemeng, omdat gemengde kleure hulle helderheid verloor het.
• Hulle het kolle kleure langsaan mekaar geplaas sodat ’n optiese mengsel op ’n afstand plaasvind. (Kleurmengsels in die brein van die kyker, bv. die optiese vermenging van violet en geel lei tot ’n helder gloeiende pêrelgrys.)
• Hulle skep helderheid deur komplementêre kleure langsaan mekaar te plaas. Dit het gehelp om die weerkaatsing van sonlig uit te beeld en het ’n sprankelende helderheid aan hulle werk gegee.
• Daar is glad nie suiwer swart in die natuur nie. Suiwer Impressionisme het die gebruik van swart verf vermy.
• Die Impressionistiese palet bestaan hoofsaaklik uit ligte kleure; die enigste donker kleure was indigo, donkergroen en ligpers. Gryse en donker tone is geskep deur komplementêre kleure te meng. Skaduwees is ook in kleur uitgedruk; gewoonlik die komplementêre kleur van geel lig, soos pers of ’n blouerige violet.
• Lig en skadu is deur kleur geskep en nie deur swart en wit nie soos in vorige kunswerke nie.
Die vlietende oomblik Die Impressioniste het besef dat hulle die tydelike en flietende effekte van sonlig kon vasvang deur ‘en plein air’ (buite) te skilder. Dit was gedeeltelik weens die beskikbaarheid van verf in buisies wat kunstenaars die eerste keer in staat gestel het om
VISUELE KUNSTE GRAAD 11 AUGUSTE RENOIR,TWO SISTERS, 1881. OLIE OP DOEK
al hulle ateljeetoerusting in ’n tas te kon dra. Hulle het dit ook noodsaaklik beskou om buite te skilder omdat hulle daartoe verbind was om die effekte van lig op kleur in die natuur waar te neem. Die hoofdoel van die Impressioniste was om ’n onmiddellike en getroue weergawe van ’n vlietende oomblik te skep. Kunstenaars het besef dat die werklikheid nie in die objektiewe natuur soos bome, berge, ens. bestaan nie, maar in die oë van die kyker. Niks is staties nie – oggende, middae en aande verskil en daarom is daar verskillende werklikhede. Die Impressioniste wou hierdie werklikheid (soos die oog sien) van die immerveranderende oomblik uitbeeld. Dit het die manier beïnvloed waarop hulle buite gewerk het: spontaan en vinnig. Hulle het gewys dat die wêreld soos wat ons dit waarneem altyd besig is om te verander. Die Impressioniste wou die atmosfeer van ’n spesifieke tyd van die dag of die effekte van verskillende weersomstandighede op die landskap vasvang. Hulle moes vinnig werk om hierdie vlietende effekte vas te vang. Die effek van ’n Impressionistiese skildery verteenwoordig dikwels ’n kiekie as deel van ’n groter werklikheid.