Dit is nie altyd vir die oningeligte kyker duidelik hoe kunswerke se pryse bepaal word nie en daarom is mense soms verstom oor die hoë pryse wat kunswerke behaal. Die mense wat kunswerke koop, wissel van skatryk kunsversamelaars tot die kurators of kopers van kuns vir die versamelings van publieke kunsmuseums of groot kommersiële maatskappye. Hulle word beïnvloed deur die tendense van die tyd waarin ons leef. Die klem op moderne kuns is op oorspronklikheid en verbeelding as ons rondom ons kyk in die wêreld. Die kunstenaar se reputasie beïnvloed ook die prys van sy / haar werke. ’n Kunstenaar se reputasie word geskep deur die hoeveelheid uitstallings waaraan hy / sy deelgeneem het, of die kunswerke wat opgemerk is deur die kunskritici en / of museums en kunsversamelaars wat die kunstenaar raakgesien het en besluit het om sommige van sy / haar werke te koop.
Historiese kunswerke het ’n wye prysstrek omdat die skaarsheid, oorsprong en die ouderdom van die werk die eise van die kunsmark beïnvloed. Die wêreld se bekendste werke, soos die werk van die ou meesters voor die 1800’s, is in museums en is selde te koop. Hierdie werke word as onbetaalbaar beskou. soos met finansiële sake, word die toestand van die kunsmark oorheers deur die toestand van wêreldfinansies.
Kunsveilings
Behalwe deur galerye, word vername kunstenaars se werk op kunsveilings verkoop waar mense op kunswerke kan bie. Kunsversamelaars verkoop ook hulle kunswerke uit hulle versamelings as hulle byvoorbeeld hulle belegging wil realiseer of in ander kunswerke wil belê. Veilinghuise soos sotheby’s het professioneel opgeleide mense in diens om die huidige geldelike waarde van kunswerke te bepaal.
Kunsuitstallings word in die media geadverteer asook bevorder deur versamelaars en museums wat aktiewe deelnemers is aan kunsaankope. Die veilinghuise publiseer ’n groot geïllustreerde katalogus voor die tyd wat details verskaf van al die kunswerke wat te koop is, asook ’n beraming van die bedrag waarteen dit na verwagting verkoop sal word. Dit word aan sommige van hulle geregistreerde kliënte gestuur en onlangs het hulle begin om dit op hulle webtuistes te publiseer. Elke werk het ’n reserweprys wat die minimum is wat die eienaar sal aanvaar. Die afslaers begin om minder as die reserweprys te bie en tydens die bodproses neem die prys toe. Die laaste en hoogste bieër koop die werk, maar indien die reserweprys nie behaal is nie, word die werk nie verkoop nie. Die veilinghuis voeg ’n kommissie by die verkoopprys wat bekend staan as die koper se kommissie. alle potensiële bieërs registreer voor die tyd sodat daar geen bieëry is wat per ongeluk kan plaasvind nie. Talle ernstige bieërs is nie teenwoordig by die bieëry nie. sommige van hulle wil anoniem bly en bie oor die foon of laat ’n maksimum bod by ’n verteenwoordiger van ’n veilinghuis.
Van die duurste internasionale werke wat op veilings verkoop is: $136.4 MILJOEN
PIERRE-AUGUSTE RENOIR, BAL DU MOULIN DE LA GALETTE, 1876