In 1908 het Braque ’n pelgrimstog na L’Estaque, een van Cézanne se gunstelingplekke onderneem. Cézanne se invloed was sterk, maar dit word selfs verder geneem om ’n meer konseptuele, gedissiplineerde en geometriese skildery te skep. Vorms is drasties vereenvoudig en in hierdie skildery is ’n hele reeks tegnieke gebruik om die sin van terugtrekking oor te dra wat amper noodsaaklik vir die onderwerp is. Geboue, rotse en bome word opmekaar gestapel eerder as wat dit agtermekaar gerangskik word. Hulle bereik oor die algemeen die bokant van die doek sodat die oog geen ontsnapping in ’n grenslose ruimte daaragter kry nie. Atmosferiese en tonale terugtrekking word opsetlik gekanselleer en voorwerpe wat kwansuis
die verste van die oog is, ontvang dieselfde waarde as dié op die voorgrond; daar is nie ’n enkel ligbron nie, en ligte en donker kleure is in ’n arbitrêre jukstaposisie. Die kleure wat gebruik word, is monochromaties sodat hulle nie inmeng met die kunstenaar se ander ondersoeke nie. Hierdie is ’n koel, intellektuele werk waarvan elke deel beplan is.
Daar is ’n gevoel van soliedheid, asof ’n mens die huise en bome kan optel. Daar is steeds ’n skakel met naturalisme, maar op ’n uiters vereenvoudigde manier sodat die huise omskep word in basiese, reghoekige vorms. Sien ook Picasso se Te Factory, Horta de Ebro, 1909.
Analitiese Kubisme: 1910 – 1911 (Analities beteken om op te breek.) Braque en Picasso het besef dat hulle besig was om in dieselfde rigting te beweeg en het daarom besluit om saam te werk. Elkeen het sy individualiteit ondergeskik aan die kuns gestel en dit is dikwels moeilik om te onderskei tussen hulle werke uit hierdie periode. Picasso se belangstelling in vorm is verwant aan Braque se meer skilderagtige benadering en sy belangstelling in ruimte. • Temas was stillewes en portrette. • Simultanisme is gebruik. Die onderwerp is beskou en verken en geskilder uit ’n verskeidenheid van sigpunte. (“Ek weet die tafel het vier kante, so ek wys hulle almal op dieselfde tyd.”) Omdat hulle verskillende uitgangspunte uitgebeeld het, voel dit asof hulle rondom die voorwerp “geloop” het en die konsep van tyd word bekendgestel.
• Ruimte is verplat. Die onderskeid tussen agtergrond en voorgrond verdwyn feitlik.
• Hulle was betrokke by die proses van visuele ondersoek – die doek is plat en hulle het dit beklemtoon.
• Die onderwerpe wat geskilder is en die ruimte rondom hulle is opgebreek (daarom analities) in klein, geometries gevormde areas of fasette.
• As gevolg van hulle ondersoeke, wou hulle nie verlei word deur kleur nie en het hulle ’n beperkte palet van okers, bruine en groene gebruik.
• Om die oppervlak te verryk, het hulle gebroke kwashale gebruik wat ook fasette onderskei het.
• Hierdie skilderye is moeilik om te “lees”. Hulle het begin om “leidrade” vir die onderwerp te gee, bv. ’n lok hare, ’n ry knope, ens.
• Aan die einde van Analitiese Kubisme het die fasette kleiner en kleiner geraak en die skilderye het ’n komplekse rooster van vertikale, horisontale en diagonale lyne geword waarvaan die fasette gehang is.
• Daar is integrasie tussen die voorgrond en die agtergrond. • Hulle het begin om ovaalvormige doeke te gebruik.
PABLO PICASSO, PORTRAIT OF KHANWEILER, 1910. OLIE OP DOEK
ANALITIESE KUBISME WAS ALTYD OP DIE WERKLIKHEID GEBASEER. Met verloop van tyd het die onderwerp moeilik geword om te herken. Picasso en Braque wou nie abstrak gewerk het nie, daarom het die leidrade en later die gestensilde letters leidrade gegee oor die onderwerp en het dit ook die oppervlak verryk.