Andy Warhol (6 Augustus 1928 – 22 Februarie 1987) Warhol was die seun van Tsjeggiese immigrante wat sy kunsloopbaan as ’n kommersiële illustreerder begin het wat skoenillustrasies geteken het en vensters uitgestal het. Deur sy werk het hy die idee gerealiseer om bestaande, gewilde beelde as ’n bron en inspirasie vir kunswerke te gebruik. Hierdie kunswerke verteenwoordig kontemporêre samelewing se stereotipes. Sy onderwerpe was nie slegs produkte van die gewilde massakultuur nie, maar hy het ook die syskermproses gebruik wat vir massavervaardigde etikette en advertensies gebruik is. Hy het assistente by sy Kunsfabriek in diens geneem om sy kunswerke te skep. Hierdie werke se doel was om ’n gebrek aan individualiteit en uniekheid uit te beeld.
WARHOL MET KAMERA EN VRIENDE IN SY ATELJEE
“Wat wonderlik van hierdie land is, is dat Amerika die tradisie begin het waardeur die rykste kliënte in werklikheid dieselfde ding as die armste mense koop. Jy kan besig wees om TV te kyk en jy kan Coca-Cola sien, en jy weet dat die president Coke drink, Liz Taylor drink Coke en dink net, jy kan ook Coke drink. ’n Coke is ’n Coke, en geen bedrag geld kan vir jou ’n beter Coke koop as wat die boemelaar op die straat drink nie. Alle Cokes is dieselfde en alle Cokes is lekker.” – Warhol
ANDY WARHOL. MARYLIN DYPTICH. 1962. AKRIEL OP DOEK. 208 × 145 CM
Hierdie akriel syskermskildery bestaan uit twee doeke. In die doek aan die regterkant is die foto van Marilyn Monroe gedruk op ’n swart-en-wit-agtergrond en die doek aan die linkerkant is haar beeld in veelvuldige kleure gedruk. Dieselfde beeld, ’n foto van ’n rolprent waarin Marilyn gespeel het, Niagara, is as die bron gebruik. Dit is 25 keer tydens die syskermproses op elke doek gedruk. Hierdie tegniek is grootliks deur die kommersiële industrie gebruik om etikette vir produkte te maak, en is ook in advertensies gebruik. Dit word daarom geassosieer met die moderne samelewing se begeerte vir die massaproduksie van enigiets wat vervaardig en verkoop kan word. Warhol en sy assistente het die foto in ’n syskerm verander en het toe die beeld afgedruk deur die verf deur die skerm te druk met ’n persstryker.