Op- en Kinetiese Kuns was oorspronklik albei gekoppel aan beweging. Albei style is verteenwoordig tydens ’n uitstalling, “Le Mouvement”, in Parys in 1955. Die opvallende verskil tussen die twee is dat Kinetiese kunstenaars geïnteresseerd was in die idee van ware beweging, terwyl die Op-kunstenaars geïnteresseerd was in virtuele beweging. Albei hierdie bewegings het saam met Pop-Kuns in die 1960’s ontwikkel as ’n resultaat van die nuwe houding teenoor abstraksie tussen kunstenaars oor die algemeen. Die Pointiliste, ’n Post-Impressionistiese groep, kan as een van die voorlopers van Op-Kuns gesien word. In plaas daarvan om kleure op hulle palet te meng, het hulle die optiese effekte van ware kleur wat in kolle geskilder is in hulle werke gebruik. Die kyker se oë was veronderstel om die kleure te vermeng wanneer hy/sy op ’n afstand na die skilderye gekyk het.
Die werke en teorieë van Josef Albers, wat ook klas gegee het by Bauhaus, Black Mountain College en Yale, het die ontwikkeling van Opkuns beïnvloed. Hy het die verhoudings tussen kleure beklemtoon soos in sy reeks skilderye, Homage to a Square. Die bedrieglikheid van kleure weens die invloed van verskillende kleure op mekaar, is die onderwerp van sy skilderye. Die woord kineties is afkomstig uit die Grieks kinesis – beweging, en kinetikos – mobiel, daarom behels kunswerke wat kineties is, beweging. Kunstenaars was nog altyd gefassineer deur beweging, maar die Kinetiese kunstenaars is geïnteresseerd in beweging self; en die fisieke werklikheid van beweging is daarom ’n integrale deel van hulle kunswerke.
VICTOR VASARELY. VEGA NOR. 1969.
Die idees wat Kinetiese Kuns ondersteun, het met die Futuriste begin wat in 1909 die volgende verklaring in hulle manifes uitgereik het: “’n Brullende motorkar wat lyk of dit deur skrapnel jaag, is mooier as die Victory of Samothrace … ons verklaar dat die wonder van die wêreld verryk is deur ’n nuwe skoonheid: die skoonheid van spoed.” Na die Tweede Wêreldoorlog het sommige van die Russiese Konstruktiviste soos Tatlin, Rodchenko, Gabo en Pevsner die Futuriste gekritiseer omdat hulle nie beweging in hulle kuns herskep het nie. Hulle het beplan om na ’n kunsvorm te streef waarin beweging sentraal is tot die kunswerk. Ritme, struktuur en tyd is belangrik in die drie dimensionele struktuur en visuele beeld van die beeldhouwerk. Hulle het die idee van die massa, wat so belangrik in tradisionele beeldhouwerk was, verwerp. Bekende Op-kunstenaars sluit Victor Vasarely, Bridget Riley en Yaacov Agam in. Alexander Calder, Julio le Parc, Jean Tinguely en George Rickey is sommige van die bekende Kinetiese kunstenaars.