BERNI SEARLE. UNTITLED (FROM THE COLOUR ME SERIES). 1998. KLEURFOTO
In ’n reeks fotografiese werke, Colour Me, wat uitgestal is as installasies in verskillende formate, het Searle begin om die onderwerpe van ras, erfenis, geheue en identiteit in ’n meer persoonlike rigting te verken.
Die fotograaf Jean Brundit is opdrag gegee om Searle se privaat optredes af te neem. Searle het op haar rug gelê, haar kaal liggaam was uitgestrek en bedek met ’n laag speserye. Heldergeel borrie, bloedrooi paprika, bruin naeltjies en wit ertjiemeel is afwisselend tydens hierdie proses gebruik. Die foto’s is nabyskote van haar gesig wat die kleur en tekstuur van die speserye uitdruk in kontras met haar hare, vel, ore en oë. Die foto’s is met opset op ’n manier geneem om ’n spesifieke indruk te skep en was nie bloot ’n reeks dokumentasies van Searle se ondervinding om met speserye bedek te wees nie.
Die foto’s is verleidelik en helderkleurig en lyk soos glansryke modefoto’s. By nader ondersoek sien ’n mens egter dat die laag speserye Searle se mond ongemaklik bedek en baie naby aan haar neus is, wat ordentlike asemhaling moeilik maak. Die laag speserye word soos ’n masker wat die kunstenaar se ware identiteit wegsteek.
Haar oë is oop op al die foto’s. Die posisie van haar kop en oë verander beduidend in elke foto. Die foto met die bruin naeltjies en die rooi paprika beeld haar uit met haar oë oop wat reguit na die kyker gedraai is en dit lyk of sy ’n uitdagende of beskuldigende uitdrukking het. In die foto met die wit ertjiemeel lê sy en kyk reguit voor haar uit. Dit lyk of sy afgesny is van wat rondom haar gebeur, wat die gevoel van weerloosheid skep. Hierdie gevoel van weerloosheid is ook sigbaar in die foto met die geel borrie, waar sy indirek in die rigting van die fotograaf kyk en dus weet waar
VISUELE KUNSTE GRAAD 11
BERNI SEARLE. UNTITLED (FROM THE COLOUR ME SERIES). 1998. KLEURFOTO
die kyker sal wees. ’n Gedeelte van haar skouer en kaal bors is ontbloot in hierdie foto, wat die effek van weerloosheid verder beklemtoon.
In hierdie reeks wil dit voorkom of Searle haarself aangebied het om bespied of bekyk te word, asof in ’n laboratorium waar ’n monster of lyk onder die kollig geplaas word vir ontleding of identifikasie. Hierdie effek word versterk in een van die weergawes van die Colour Me fotografiese installasies, Red, Yellow, Brown. Die beelde is vollengte foto’s van haar gesig en lyf. Sy het ook bokse speserye onder die foto ingesluit. Daarmee saam het sy fotografiese kleurtoetskaarte ingesluit wat effens uit fokus is en nie behoorlik gebruik kan word nie weens die swak tegniese kwaliteit. Die kyker kan uit ’n verskeidenheid interpretasies kies oor die idee van kleur en die proses van kleurklassifikasie deur die insluiting van die werklike speserye en die kleurkaarte.