Graad 11 Visuele Kultuurstudies dek ongeveer die tydperiode vanaf 1750 tot vandag. Die fokus is hoofsaaklik op die sogenaamde Westerse Kuns aangesien die vernaamste stilitistiese innoverings tydens hierdie periode eerstens in Europa en later in Amerika plaasgevind het en omdat die werke ’n geweldige invloed op kuns regoor die wêreld gehad het, insluitend in Suid-Afrika. In Graad 12 gaan jy Suid-Afrikaanse kuns meer in diepte bestudeer, en dit is belangrik om die invloede te sien van internasionale style ten opsigte van ons kuns te sien. Dit is ook interessant om te sien dat vandag se voorste kunstenaars van regoor die wêreld afomstig is, insluitend Suid-Afrika. Kontemporêre kuns is nie gebonde deur die grense van sekere lande nie soos hulle byvoorbeeld in die 19de eeu was nie.
Die klem is op kunswerke en visuele geletterdheid. Daar word sterk aanbeveel dat jy na Hoofstuk 1 in die Graad 10-boek verwys vir basiese inligting oor die formele elemente, komposisie, style, onderwerp, ens.
Dit is belangrik om middels te hê om in staat te wees om kunswerke te bespreek. In Graad 10 is ’n gids (‘resep’) oor hoe ’n mens ’n kunswerk kan bespreek:
DIE VOLGENDE IS ’N AANDUIDING VAN HOE ’N MENS ’N KUNSWERK IN MEER DIEPTE KAN BESPREEK:
1. ETIKETINLIGTING • Kunstenaar, titel van werk, medium, datum, grootte. • Wanneer jy sogenaamde ‘ongesien’ werke bespreek, word hierdie inligting verskaf en dien dit as ’n leidraad oor die styl / periode.
• In werke wat jy bestudeer, moet jy die naam en kunstenaar van kunswerke verskaf. Verskaf ook die medium – jy moet oor die algemeen sê of dit ’n skildery of ’n tekening is, maar wees meer spesifiek indien dit ’n nuwe medium is.
2. BESKRYWING Identifiseer die elemente wat jy kan sien. Noem en beskryf hulle. Maak seker dat jou beskrywing nie evaluerend, uitgesproke of interpretief is nie deur net neer te skryf wat jy sien.
Beskryf die visuele in die skildery en hulle posisie in verhouding tot mekaar, bv. die koei is onder die boom. Noem slegs wat jy met jou oë kan sien asof jy die werk vir ’n blinde mens beskryf.
Onderwerp: Is dit ’n stillewe, landskap, portretstudie? Geskiedenis: Behoort die werk tot ’n spesifieke kunsbeweging?