Sy onderbewyssyn en emosionele reaksie word uitgedruk in sy uitbeeldings van die menslike toestand onder hierdie omstandighede.
In die werk African Guernica is daar ’n verwantskap met Picasso se anti-oorlog stelling in die uitbeelding van die verspreide en verwilderde mense en diere wat onderwerp word aan omstandighede wat deur die mens afgedwing word. Feni se werk fokus daarop om empatie en simpatie te ontlok vir die aanhoudende vernederende sosiale omstandighede van mense in swart townships in Suid-Afrika, terwyl Picasso die wreedheid van oorlog ontbloot het deur aandag te vestig op die inval van ’n klein, weerlose dorpie in Spanje.
Soos in Picasso se Guernica, druk Feni se figure in houtskooltekeninge sekere vorms van emosie uit deur hulle gesigsuitdrukkings, houdings en gebare. Feni se kenmerkende styl van verwringing beklemtoon die gevoel van verontrusting wat deur die mense ondervind word. Die onsamehangende aard van die werk en die figure wat in lae gerangskik is binne die komposisie, dra by tot die chaotiese beeld van die omstandighede wat oorgedra word deur Dumile Feni se gedagtes en gevoelens. Die komposisie het nie perspektief en diepte nie omdat die figure nie in ’n realistiese ligging uitgebeeld word nie. Die figure dryf in die donker ruimte van die blokformaat sonder dat grootte volgens realistiese driedimensionaliteit in ag geneem word. Sommige van die figure is meer dominant as ander en dit kan geïnterpreteer word dat hulle op die voorgrond is omdat hulle ligter is as die meer onduidelike figure op die agtergrond. Daar is ’n verskeidenheid groepe figure en enkelfigure wat apart van mekaar is, wat verder die gebrek aan eenheid in hierdie kunswerk beklemtoon, asook klem plaas op die simboliese omstandighede van die gemeenskap. Die twee dominante figure op die koeie beeld spotprentagtige oordrewe wanhoop uit en kan beskou word as simptomaties van die waansin wat veroorsaak word deur in hierdie omstandighede te woon. Deur een van die figure wat op die koeie staan drie bene te gee, verwring hy hom in ’n ontmenslike monster wat gil van pyn.
Aan die linkerkant aan die onderkant van die komposisie maak ’n prediker met ’n wit kraag handbewegings terwyl niemand luister nie. Langs hom vertrap ’n koei ’n babatjie wat nog probeer om van die koei se melk te drink. Hierdie beeld kan op meer as een manier geïnterpreteer word. Die verlate baba is ’n simbool van al die swart kinders wat alleen gelaat is deur hulle ma’s weens verstedeliking. Dit kan ook beskou word as ’n beeld van verlange na die dae van ’n landelike bestaan toe koeie ’n belangrike deel van inwoners se daaglikse en spirituele lewe was. Die insluiting van die koeie, hoenders en voëls verwys na Afrika-diere wat tydens rituele gebruik word. Die minderwaardige toestand of bestaan waaraan die mense onderwerp word as gevolg van verstedeliking, en die gepaardgaande stelsel van apartheid, word geïmpliseer op die manier waarop mense en diere in hierdie tekening met mekaar in interaksie tree.
Hierdie toestand of vernedering word verder beklemtoon deur die twee figure wat aan die bokant opeengehoop is. Hulle lyk of hulle rook om van hulle onmiddellike omgewing te vergeet. ’n Jazz-musikant sonder ’n gehoor blaas sy trompet reg langs die prediker. In die donker agtergrond is daar ’n verwysing na die verval van morele waardes, soos gesien in die figuur van ’n vrou wat haar rok oplig.
DUMILE FENI, THE OGRE, 1965.
In hierdie werk verwys Feni na die onmiddellike visuele werklikhede deur sy ekspressiewe styl te gebruik om figure uit te beeld. Deur dit op hierdie verspreide manier te kombineer, lok hy ’n gevoel van chaos en disintegrasie uit, wat ook ’n voorspelling is van meer geweld wat gaan volg weens die omstandighede.
Ander kunswerke deur Dumile Feni verskyn in die kantlyn hierbo. VISUELE KUNSTE GRAAD 11