BOB VAN BEBBER, AS DEEL VAN BOOGERTMAN URBAN EDGE & PARTNERS DESIGN, SOKKERSTAD OF DIE FIFA WÊRELDBEKERSTADION, SOWETO, JOHANNESBURG
Hierdie kontemporêre konstruksie is Post- Modernisties in sy benadering wat die geskiedenis vereer, terwyl dit simboliese elemente gebruik wat aanklank by mense sal vind. Die argitek Bob van Bebber het die herkenbare vorm van die kalbas – ’n pampoen wat uitgedroog word om as ’n houer vir vloeistowwe, soos tradisionale Afrika-bier te dien, as inspirasie gebruik. Hiermee het hy die gees van tradisionele Afrika opgesom omdat die idee van die kalbas die mededeelsaamheid en gasvryheid simboliseer, asook verteenwoordigend is van ’n smeltpot van kulture. Die funksie van die stadium is daarom ordentlik weerspieël in sy vorm omdat die Wêreldbekersokkertoernooi in 2010 ’n hedendaagse smeltpot van wêreldkulture was. Die gebruik van die mosaïekstylomhulsel aan die buitekant van die gebou is ’n belangrike deel van die dekoratiewe effek om die idee van ’n kalbas te skep. Die mosaïek, wat vuur- en aardkleure verteenwoordig, en geïnspireer is deur die natuurlike Afrika-landskap, word beklemtoon deur ’n sirkel ligte wat onderaan die struktuur geheg is, wat die idee van vuur aan die onderkant van die kalbas naboots. Binne-in die kleurvolle mosaïek is daar ook ’n onreëlmatige verstrooiing van geglasuurde panele wat soos vonke vuur lyk wanneer dit in die aand aangeskakel is. Hierdie onreëlmatige verspreiding van agt verskillende kleure is geposisioneer deur rekenaar- verewekansiging te gebruik. Die 40 000 panele wat vir hierdie dekoratiewe buisvormige buitevel gebruik is, is nuwe fiberC-betonpanele wat versterk is met glasvesel wat, volgens die argitekte,
’n groener alternatief is as om veselbetonpanele of aluminiumblaaie te gebruik. Die panele is ligter en meer duursaam as konvensionele panele.
Hierdie stadion is opgerig binne-in die oorspronklike “dop” van die FNB-stadion. Die oorsprong en geskiedens van die nuwe gebou word erken deur die ondersteuningstelsel van die ou gebou te behou en dit te beklemtoon deur dit grys te verf. Die gebou is herbou as ’n drievlakkige eerder as ’n tweevlakkige stadion omdat die boonste derde van die bestaande platform herbou is om ’n tweede vlak te vorm. Die gewildste sitplekke in die stadion op die laagste vlak is herbou om siglyne en gemak te verbeter. Sitplekke op die boonste vlak is uitgebrei om die veld te omsirkel. Opritte en hysbakke vir maklike toegang vir gestremde toeskouers is ook ingesluit. Die oranje sitplekke word onderbreek deur rye swart sitplekke wat elk wys in die rigting van die nege gasheerstede. Die tiende punt wys na Duitsland, die gasheerland vir die Wêreldbeker in 2006. Beligting is energiebesparend en passtukke van die vorige stadium is gebruik. Reënwater wat van die dak, pawiljoene en veld af vloei, word versamel in ’n groot ondergrondse grag rondom die veld wat al die reënwater versamel. Die meerderheid van die water word vir die veld gebruik en as ekstra water vir die toilette. Negentig persent van die materiaal van die ou stadion is in die nuwe gebou hergebruik. Die konstruksie het twee toekennings ontvang vanweë die uitstaande ontwerp en praktiese oplossings wat dit bied.