173 2 DADA ’N INTERNASIONALE BEWEGING VANAF 1916 TOT 1922
AGTERGROND Dada en Surrealisme het die jare tussen die twee wêreldoorloë gedomineer. Albei is gebore in opstand teen die Eerste Wêreldoorlog en albei het die tradisionele waardes van die samelewing bevraagteken. Hulle het ’n dramatiese invloed gehad op daaropvolgende kunsbewegings. Dada het hoofsaaklik as ’n literêre manifestasie begin. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het die Duitse skrywer en digter, Hugo Ball, die Cabaret Voltaire in Zürich gestig. Dit was ’n sentrum vir kunstenaars en skrywers wat ’n vooruitsig van protes teen die samelewing van hulle tyd gedeel het.
Cabaret Voltaire was ’n mengsel van ’n nagklub en ’n kunsvereniging. Dit is deur Hugo Ball en ander tot stand gebring vir artistieke en politieke doeleindes. Tydens vergaderings is gedigte gelees, en skilderye is geskep deur intuïsie sonder beheer te gebruik. Gebeure (“happenings”) is gehou. Tydens een vergadering het 80 sprekers op dieselfde tyd oor verskillende onderwerpe gepraat en tydens ’n uitstalling is hamers aan die gehoor uitgedeel met die versoek dat hulle die kunswerke verwoes. Gebeure by die kabaret was noodsaaklik vir die ontstaan van Dada.
Daar is verskillende weergawes oor die oorsprong van die naam “Dada”. Een weergawe is dat die woord per ongeluk ontdek is in ’n Frans-Duitse woordeboek. (Dada beteken stokperdjie in Frans) Dit is ook die eerste woord wat ’n kind sê. Dit het die ondersteuners se soeke na vryheid en ’n nuwe begin uitgebeeld.
Vanaf Zürich het Dada vinnig internasionaal versprei na Keulen, Hanover, New York en Parys. Baie tydskrifte het deel uitgemaak van Dada, bv. “Dada” in Zürich, die “Electric Fan” deur Max Ernst in Keulen en “391”.
Invloede Dada was ’n protesbeweging teen die Eerste Wêreldoorlog. Miljoene mense is doodgemaak en mense het die menslike bestaan bepeins. Dada het sy oorsprong gehad in die ontnugtering en afgryse van die sinnelose barbaarsheid van die oorlog. Volgens die Dadaïste het die verskillende regerings die Groot Oorlog laat plaasvind weens outokratiese en materialistiese voordele.
FOTO GENEEM TYDENS DIE EERSTE WÊRELDOORLOG
VISUELE KUNSTE GRAAD 11 “Die ware
Dadaïste is teen
Dada gekant.” - Die Februarie 1920 Bulletin Dada
’N VOORBEELD VAN ’N KLANKGEDIG DEUR HUGO BALL.
HUGO BALL IN KOSTUUM TERWYL HY ’N KLANKGEDIG BY DIE CABARET VOLTAIRE OPVOER.