Te Seagram-gebou (ontwerp in samewerking met Philip Johnson) is ’n perfekte voorbeeld van die Internasionale Styl. Dit is ’n reghoekige wolkekrabber sonder detail of versiering. Dit is ’n bewys van die Miesiaanse idee van “vel en been”-argitektuur. Staal en beton was vir hom die krag van die gebou (been), terwyl die glas die skitterende “vel” was wat die geraamte bedek het. Die been en vel word geskei sodat daar geen verwarring is oor wat die dak en vloere ondersteun nie, en wat dit teen die weer beskerm nie. Hierdie simmetriese en formele gebou is opgelig op stelte en die ingangsportaal is ’n volume wat ingeslote is in glas, wat diep versonke is agter die hooffasades van die toring.
MIES VAN DER ROHE, SEAGRAM-GEBOU, NEW YORK. 1958
MIES VAN DER ROHE, DIE FARNSWORTH-HUIS. 1946 – 1950
Die Farnsworth-huis is waarskynlik die mees volledige stelling van glas-en-staal- / vel-en-been- argitektuur. Die huis is ’n reghoekige struktuur van “H”-kolomme wat in twee parallelle rye gebou is. Tussen hierdie agt kolomme is twee betonblaaie wat met staal omraam is. Aan elke kant is die vloer vrydraend en die dakplate strek twee meter oor die laaste ry kolomme uit. Tussen hierdie twee drywende dakplate is ’n eenvoudige leefruimte wat omring word deur glas wat die veranderende seisoene weerkaats. Hierdie gebou is bewys van die klem wat Mies geplaas het op dissipline, orde, eenvoud, duidelikheid en waarheid.