In Landscape with Sheep is haar belangstelling in sterk gedefinieerde vereenvoudigde vorms en uiterste kleurkontraste kenmerkend van die invloed van die Duitse Ekspressioniste. Hulle het Laubser bevry van die nabootsing van die werklikheid. Die komposisie van die skildery dra haar houding van spirituele harmonie oor. Drie skape wei veilig in die sentrale voorgrond. Hulle word omring deur ’n groot, dramatiese landskap van sagte heuwels, ’n skaars sigbare boereopstal, blou berge in die afstand en groot, bultende wolke. Elke vorm in hierdie komposisie pas perfek saam met die ander een in. Die ritmiese gebruik van vorms en kleure skep ’n gevoel van stabiliteit en balans.
MAGGIE LAUBSER, LANDSCAPE WITH SHEEP, GEEN DATUM. OLIE OP DOEK
Die donker buitelyne rondom die vorms van die skape, heuwels, bosse en wolke dra by tot die ekspressiewe eienskap van vereenvoudiging en tweedimensionaliteit. Die vorms wat nie omlyn is nie, is ligter en vervaag in die omringende kleure, soos die wolke. Die skerp kontras tussen lig en skadu op die bome vestig die aandag op haar vereenvoudigde interpretasie van hulle vorms. Die kontras tussen lig en donker in die res van die skildery is meer subtiel. Die veranderende ligkolle regdeur die landskap wys die tipiese variasies wat gesien kan word in die veranderende weer wat oor die Wes-Kaapse Swartland-area beweeg. Haar aanwending van verf weerspieël haar minagting vir realisme en druk belangstelling uit in haar sensuele interpretasie van die ondervinding van die landskap. Die sigbare, sagte kwashale dui die rondheid en diepte van vorms aan. Ander kunswerke deur Laubser sluit die volgende in:
MAGGIE LAUBSER. THE HARVERSTERS (OESTYD). GEEN DATUM. OLIE
MAGGIE LAUBSER. SELF-PORTRAIT. 1924. OLIE. MAGGIE LAUBSER. IN THE HIGHLANDS, SCOTLAND. 1924. OLIE OP KARTON VISUELE KUNSTE GRAAD 11