Soos in Race Against Time, wys Sihlali se ander waterverfskilderye dat hy ’n persoonlike styl ontwikkel het. Die ekspressiewe kalligrafiese kwashale en sagte kleure kan geassosieer word met ’n verromantiseerde beskouing van die lewe. Die klem op die skoonheid van die vloeiende waterkleure en die dowwe vorms is aspekte wat karakteriserend van Romantisisme is. Sihlali se direkte benadering tot die onderwerp wat hom omring het, verskaf aan ons, die kykers, die waarheid van daaglikse realiteit, wat gewoonlik met Realisme geassosieer word.
In hierdie waterverfskildery word die voorgrond gedomineer deur die stowwerige “ontploffings” wat deur die helder geel stootskraper gemaak word en wat die brose huis verwoes; die chaotiese puin van planke en bakstene kom ook in die voorgrond voor. Shilali herroep die dag waarop hy interaksie met die township-bestuurder in Pimville gehad het. Shilali het die indruk gekry dat die bestuurder wou wys hoe vinnig hy die huis kon vernietig. Die skepping van hierdie aantekening was vir Shihali ’n “race against time”. Teen die tyd dat die huis vernietig is, het hy die skildery voltooi. Die proses van skilder, in hierdie geval, kan vergelyk word met die neem van ’n foto, maar dan het Sihlali se manier van skilder deur gebroke kwashale, gefragmenteerde oppervlakke en verkrummelende randte te gebruik die dokumentêre aspek van die werk versterk. Deur sy oë kan ons die broosheid van die moderne stedelike omgewing in apartheid-Suid-Afrika sien.
Ander kunswerke deur Sihlali sluit die volgende in:
DURANT SIHLALI, BURNING OLD CLOTHES, 1964.
DURANT SIHLALI, DAWN IN SOWETO, 1978.
DURANT SIHLALI, FOG IN SOWETO – OLD PIMVILLE, 1972.
DUMILE FENI
Hierdie kunstenaar is in Worcester in die Wes-Kaap gebore, en sy talent is gedurende sy vroeë twintigs ontdek terwyl hy besig was om te herstel in ’n Johannesburgse hospitaal nadat hy tuberkulose opgedoen het. Hy is aangemoedig en gehelp deur kunstenaars soos Cecil Skotnes en Bill Ainslie. Hy is “die Goya van die Townships” genoem en sy werke beeld sy sensitiwiteit vir en emosionele reaksie op die omstandighede van die geneemskap waarin hy gewoon het uit. In baie van sy werke is die dominerende tema die verwoesting wat veroorsaak is deur die stelsel van politieke onderdrukking.
DUMILE (FENI) MHLABA, AFRICAN GUERNICA, GEEN DATUM. HOUTSKOOL OP PAPIER