Naby die sameloop van die Limpopo- en Shashiriviere is daar twee heuwels waarvan een as Mapungubwe bekend staan. Die kultuur en handeldryf in goud, koper en yster is soortgelyk aan die van Groot Zimbabwe. Baie artefakte wat uit goud en ander materiale gemaak is, asook menslike oorskot, is by die terrein gevind. In drie graſte is liggame in regop posisies gevind wat met die adel geassosieer is. Goue- en koperitems, eksotiese krale en ander voorwerpe is in die graſte gekry.
Die bekendste artefak wat daar gevind is, is ’n goue renoster wat ongeveer 22cm groot is. Dit is uit hout gesny en met goue foelie bedek wat gemaak is deur die metaal tot ’n dun plaat te hamer. Die hout het oor die jare gedisintegreer maar die beeld is op so ’n wyse begrawe dat dit al hierdie jare behoue gebly het. Mapungubwe is as een van Suid-Afrika se Wêrelderfenisgebiede in Julie 2003 verklaar.
AFRIKA-KUNSVLYT
Alle Afrika-stamme het hulle eie funksionele materiale uit natuurlike materiale gemaak. In Suid- Afrika is daar nie aantekeninge van baie gekerfde figure en maskers nie, moontlik omdat die stamme besig was om teen die oostelike deel van die kontinent af te migreer met hulle diere tydens die konstante soektog na kos. Daar was ook konstant kompetisie tussen mense van verskillende kulture oor die gebruik van land. ’n Baie ryk kultuur het ontwikkel uit die vervaardiging van produkte wat funksionele en estetiese gebruike in die alledaagse lewe gehad het.