In haar werk verwys Judith Mason ook na ’n groot verskeidenheid simbole. Die simbole sluit kontemporêre gelowe en ook ’n verskeidenheid antieke mitologieë in. Deur middel van hierdie vermengde inspirasie, vind haar boodskap aanklank by die mense van haar tyd en spreek sy sake soos identiteit en sosio-politieke aangeleenthede aan.
Alhoewel die Christelike godsdiens ’n dominante en sigbare invloed in haar werk is, spreek sy dit vraend, eerder as bloot bevestigend, aan. Sy het vir haarself ’n eie persoonlike taal ontwikkel in die wyse waarop sy godsdienstige simbole aanwend. Haar godsdienstige simbole hou verband met die oerkwaliteite van die mens – daardie elemente in ons lewens wat vanuit antieke tye aan ons oorgedra is. Die insluiting van die mitologiese simbole van die antieke Grieke en Romeine is daarom ’n voor die handliggende keuse omdat dit die oorsprong van die westerse simboliek is. So gebruik sy ook die mees basiese eienskappe van karakters uit die mitologie van verskillende kulture om te bepaal hoekom die mens op bepaalde wyse dink en doen.
JUDITH MASON – ARACHNE, 1996, OLIE OP BORD, 123 × 120 CM(MET WEB WAT 79CM ONDER AFHANG)