Die gode het oor elke aspek van die daaglikse lewe in antieke Egipte geheers, van die oorstroming van die Nyl en droogtes tot die geboorte van ’n kind. Die Egiptenare het in ’n ingewikkelde stelsel van gode geglo en was, soos die Mesopotamiërs, politeïsties. Die gode kon antropomorfies wees en kon gevolglik diere, natuurlike of abstrakte vorms aanneem in kombinasie met menslike kwaliteite. Die aspekte van die natuur wat die Egiptenare se lewens beïnvloed het, soos die son en die Nylrivier, is met die belangrikste gode geassosieer. Die aanbidding van gode, insluitend die Farao, is beskou as ’n manier om ’n mate van harmonie en ewewig te handhaaf, wat deur die Egiptenare as Maat beskryf is.
Lewe na die dood was die sentrale punt van die Egiptiese godsdiens en hierdie opvatting het vir ten minste 3 000 jaar onveranderd vir Egiptenare gebly. Hulle het geglo dat hulle in staat sou wees om voort te gaan met ’n lewe op aarde sonder swaarkry na die dood. Hulle lewens is deurgebring in voorbereiding vir die volgende vlak. Grafelders en al die versierings is geskep om
die oorledenes te beskerm en is belangriker geag as die huise wat vir die lewendes gebou is. In die hiernamaals sou daar interaksie wees tussen drie uitstralings van die gees. Die lewenskrag van die heelal wat die liggaam in sy of haar lewe vergesel het, is die ka. Na die dood, gaan die ka terug na die skepper. Om weer te lewe, moet die dooie weer by die ka aansluit. Die gees moet onderhou word met kos en drank en gevolglik is kos-offerandes in die grafelders gelaat. Die ba is die persoonlikheid van die mens en is beskou as die skakel tussen die lewe en die hiernamaals. Hierdie gees sou elke dag weer by die mummie aansluit, soos ’n daaglikse sirkel van hergeboorte. As die ka en die ba weer bymekaar gevoeg is, het dit die ankh, wat ’n lewende wese is, geword. Die daaglikse sirkel van hergeboorte was net beskikbaar aan diegene wie se lewens dit geregverdig het. Die ba is deur die god Osiris geoordeel deur dit op ’n skaal met ’n veer te balanseer. As die twee nie gebalanseer het nie, sou daar ’n tweede sterfproses wees. Die Boek van die Dood is nog ’n noodsaaklike item wat saam op die reis na die dood geneem is.
Hierdie boek het die persoon voorsien van ’n stel towerspreuke om op te sê terwyl hy of sy veroordeel en geweeg is om ’n suksesvolle uitkoms te kon verseker. Dit het ook odes aan die son-god Ra ingesluit en raad bevat oor hoe om met verskillende gevare soos aanvallende vyande, slange en krokodille mee af te reken of hoe om uit die nette van vissermanne te bly. Hierdie boek is in materiaal saam met die mummie toegedraai en in ’n boks
geplaas met die standbeeld van Osiris. Die grafelders en al
die inhoud daarvan is wel ’n herinnering aan ’n
tyd en kultuur wat lank gelede
verdwyn het, maar dit is ook ’n bewys van die geweldige belangrikheid van die kultuur van die dood in daardie tyd.
WOORDELYS
ANTROPOMORFIES is wanneer menslike eienskappe aan nie-menslike dinge toegeding word.
POLITEÏSME is die aanbidding of geloof in meer as een god.