In Egipte het die stabiele samelewing die skep van monumentele geboue moontlik gemaak. Afgesien van die stabiele materiaal en sosiale omstandighede, omring afgesonderde en bergagtige dele Egipte – en dit verskaf ’n eindelose bron van steen vir bouwerk. Soos die ander kunsvorms, is argitektuur gebaseer op die godsdienstige oortuigings van die Egiptenare. Modderstene is gebruik om huise mee te bou terwyl tempels en grafelders uit blokke steen geskep is, aangesien dit vir ewig moes hou. Die vroeë grafelders van adellikes is in die vorm van mastabas gebou. Later is die Stappiramide van Saqqara ontwikkel uit die mastaba en dit is ’n wyer, langer weergawe daarvan. Die begrafnismonumente in Giza is voorbeelde van piramides wat kenmerkend van Egiptiese boukundige uitnemendheid is. Hierdie groepe priamides is met groot sukses gebou vir die Faraos Khufu, Khafra en Menkaura. As beskermende monumente vir die gemummifieerde koning en sy besittings, het hierdie grafelders ook sy absolute mag uitgebeeld. Die eenvoudige geometriese vorm van die struktuur het ’n embleem geword van die orde wat in die chaos van die natuurlike woestyn-omgewing deur die heilige koning tot stand gekom het. Die hiëroglifiese inskrywings van gebede en towerspreuke wat die mure van die grafelder-vertrekke bedek, versterk die idee dat die primêre funksie van die piramides was om die ewige welvaart van die Faraos te verseker. Die vorm van die piramides is op ’n verskeidenheid maniere geïnterpreteer. Sommige mense glo dit is ’n oer-heuwel, ander dat dit ’n opgang na die hemel is wat dit makliker vir die koning gemaak het om na die gode toe terug te keer. ’n Ander opvatting is dat die vorm ’n simbool is van sonstrale wat deur die wolke skyn. By die tempel van die songod by Heliopolis is ’n steen met ’n bokant wat soos ’n piramide gevorm is en wat ’n kultus-beeld weerspieël. Die benben word ook beskou as ’n moontlike inspirasie vir die piramide- vorm. Die piramide van Khufu by Giza is een van die grootste en bekendste piramides.
STAPPIRAMIDE VAN SAQQARA, C. 2680 V.C.
Die vier gelyke driekhoeke is presies uitgelê om ooreen te stem met die vier kardinale kompaspunte. Dit is op die wesoewer van die Nyl gebou waar die son elke dag “dood” gaan. Dit het 20 jaar geneem om hierdie yslike monument te voltooi. Dit is heeltemal solied afgesien van twee klein grafamers, gange, deurgange en lugskagte. Na die gebou voltooi is, is ’n blok wat met ’n blink materiaal bedek is bo-op die piramide geplaas. Die kante van die piramide is bedek met wit kalksteen om dit ’n egalige oppervlak te gee. Die piramide word omring deur heelwat ander strukture, soos drie ander piramides vir koninginne, ’n begrafnistempel waar Khufu na sy dood eerbiedig kon word, ’n deurgang wat na die tempel gelei het, mastabas vir adellikes en ’n paar diep putte waarin daar bote was.
DIE PIRAMIDES VAN GIZA SOOS GESIEN VANUIT DIE SUIDE, C. 4000 V.C. TOT 2065 V.C.