DIE MURUMBA-DROM WAT UITGESNY IS IN DIE VORM VAN N VLIEGTUIG WAT GEBRUIK IS IN DIE OPVOERING WAT GEHOU IS TER VIERING VAN MUDZUNGA SE VIERDE HUWELIK.
DIE VOLGENDE FOTO’S TOON UITTREKSELS UIT VERSKEIE OPTREDES VAN MUDZUNGA
Dié opvoering vereis dat Mudzunga deur ’n skarnierdeur binne-in die doodskis klim en na ’n ruk in ander klere verskyn. Afgesien van die idee dat die drom in ’n doodskis verander is, word die aspek van hergeboorte uitgebeeld – hy verskyn uit ’n kis wat in ’n “baarmoeder” verander het. Sy vrou vergesel hom tydens sy optredes deur op ’n drom te slaan, wat tradisioneel ’n metode is om met die voorvaders te kommunikeer. Die dromslanery maak hom uit die dood uit wakker. Hierdie is altyd die basiese struktuur wat sy opvoerings volg, waartydens hy nuwe aspekte voeg uit inspirasie wat hy op daardie oomblik kry. Die idee van die ritueel wat hy gereeld opvoer, kom dalk dramaties voor, maar die eintlike opvoering is taamlik eenvoudig. Mudzunga gebruik aspekte soos die reaksies van die mense in die gehoor, die omgewing, tradisionele kultuur of persoonlike kwessies as deel van die betekenis wat bydraend is tot die idee van ’n simboliese dood en hergeboorte. Figure, beelde en letterwerk wat in reliëf in die kisdromme ingekerf is, maak nog ’n bydrae tot die betekenis van sy werk. Hier verwys hy direk na die simboliese beelde, soos slange en beeste wat belangrik is in die Venda se tradsionele oortuigings. Slange verteenwoordig ’n watergees wat in ’n poel of ’n baarmoeder woon terwyl beeste geassosieer word met offerandes, kommunikasie met die voorvaders en met rykdom. Hy gebruik die tradisionele oortuigings, simbole en rituele om kommentaar te lewer op sy ondervindings in sy persoonlike lewe en in sy gemeenskap.
WOORDELYS
GEBEURTENISKUNS (‘PERFORMANCE ART’) is ’n kunsvorm wat verwant is aan konseptuele kuns waarin die idee of konsep van die opvoering kommentaar lewer op sekere aspekte van die samelewing of kuns. Die voorstelling van die opvoering is nie noodwendig so vermaaklik as of vertel ’n storie soos in die geval van ’n dramatiese opvoering nie. Hierdie kunsvorm verskil van ander vorms van beeldende kunste in die opsig dat die “kunswerk” net tydens die duur van die opvoering van toepassing is en dat dit nie gewoonlik in dieselfde vorm herhaal word nie. Die kunstenaar hoef nie noodwendig aan die opvoering deel te neem nie, maar kan die “brein” en beplanner van die gebeurtenis wees.