DIE HOOFARGITEKTE VAN DIE PARTHENON WAS ICTINUS EN KALLICRATES, MET PHIDIAS AS OPSIENER VAN DIE BEELHOUWERKVERSIERINGS. DIT IS GEBOU TUSSEN 447 V.C. EN 438 V.C. DEUR DIE LEIER PERICLES. REGS IS DIE PARTHENON SOOS DIT VANDAG LYK. DIE ILLUSTRASIE LINKS IS ’N REPRODUKSIE VAN HOE DIE PARTHENON MISKIEN GELYK HET, MET GEVERFDE DETAIL WAT DEUR DIE EEUE HEEN VERWEER HET.
Die Parthenon is een van die geboue wat die voordeel gehad het om fyn wit marmer van Mount Pentelikon te kon verkry in plaas van die kalksteen, versterk deur marmerafwerking soos in baie ander Griekse tempels. Die hoofdoel van die Parthenon was om die standbeeld van Athena, die godin wat glo die beskermer van die stad Athene is, te huisves. Die groot standbeeld is van ivoor en goud gemaak, maar dit het nie behoue gebly nie.
Die tegniese vaardigheid in die konstruksie van hierdie Doriese- orde tempel en die sentrale posisie waar dit geleë is op die Akropolis heuwel in Athene het die Parthenon ’n simbool van uitmuntendheid gemaak in Griekse argitektuur. Die Parthenon verskil van die vorige Doriese tempels daarin dat dit wyer is – met agt pilare dwars in plaas van ses. Dit het twee vensterlose vertrekke in plaas van die tradisionele een vertrek. Die naam van die een vertrek, Parthenon – dit beteken die vertrek van die maagd godin – is later aan die hele gebou gegee. Die tweede kamer is gebruik as ’n skatkamer en het vier Ioniese pilare voor dit. Dit is nog ’n ongewone insluitsel in ’n hoofsaaklik Doriese tempel. Ander Ioniese kenmerke is die argitektoniese beeldhouwerk op die fries, aan die bokant van die naos muur aan die buitekant. Athene se geografiese en sterk politiese posisie in die Aegeaanse streek kon deur hierdie kombinasie van ordes gereflekteer word.
Nog ’n aspek in tegniese vaardigheid in die konstruksie van die Parthenon is die feit dat, behalwe vir die houtdeure, deurrame en dakbalke, marmer deurgaans gebruik is. Geen pleister het die blokke bymekaar gehou nie. Die suilhoofde van die pilare is styf teen mekaar gedruk met skarniere en die marmerblokke wat die mure vorm, word bymekaar gehou deur ysterkramme wat in gleuwe pas en wat deur lood in plek gehou word.
VISUELE KUNSTE 2011
HIERDIE KOPIE VAN DIE STANDBEELD VAN ATHENA PARTHENOS IN NASHVILLE VSA WYS DIE PRAG VAN DIE STANDBEELD SOOS DIT WAS IN ANTIEKE GRIEKELAND. DIT IS 12.8 M HOOG.
.
Nog ’n kundigheid van die Parthenon is die feit dat die argitekte sekere aspekte van die Doriese orde verfyn het. Die vernaamste is die pilare se proporsies wat dunner lyk as die vroeëre pilare. Dit is bereik deur die pilare nouer te maak in verhouding met hulle hoogte en om dan die entablature korter te maak in vergelyking met die pilare.