Alhoewel die Florentynse skilders ’n naturalistiese kunsvorm geskep het, het hulle kleur afgeskeep. Hulle het kleur en vorm as twee verskillende komponente beskou, terwyl die Venesiërs hulle as onafskeidbaar gesien het. Hulle het verskillende waardes van ’n kleur tussen lig en donker gebruik om vorm te skep. Die ryk gebruik van kleur was hoofsaaklik as gevolg van hulle lewenstyl van prag en praal, en ook die nuwe medium van olieverf wat beskikbaar geword het. Die kunstenaars van Venesië sluit Giorfione, Titian, Tintoretto en Veronese in. Venesiaanse kuns was meer ‘skilderagtig’.
Wie was Titian?
Tiziano Vecelli or Tiziano Vecellio (c. 1488/1490 –1576), beter bekend as Titian, was die belangrikste lid van die 16de eeuse Venesiaanse skool. Hy is in Pieve di Codore gebore naby Belluno (in Veneto) in die Republiek van Venesië. Titian was een van die veelsydigste Italiaanse skilders, ewe behendig met portrette, landskapagtergronde en mitologiese en godsdienstige onderwerpe. Sy skildermetodes, veral in die aanwending en gebruik van kleur, sou ’n geweldige invloed hê op die skilders van die Italiaanse Renaissance en toekomstige geslagte van Westerse kunstenaars.
Titian se bemeestering van olieskilderye het die inherente kwaliteite van hierdie media benadruk, in harmonie met die narratief van sy skilderye.
“Die
moderne skilder”
Dit is nie duidelik of hierdie skildery ’n mitologiese werk is of net ’n uitbeelding van ’n naakte vrou is nie. Dit is ’n meer sensuele werk as Botticelli se Geboorte van Venus; gedeeltelik vanwee sy ryk olieverfleure. Titian het gewoonlik ’n rooi basiskleur gebruik om sy kleure ’n warm gloed te gee. Die vrou lê gemaklik op ’n sofa in die ryk interieur van ’n paleis. In die agtergrond is ’n bediende besig om in ’n kis te werk, terwyl ’n ander vrou langs haar staan. Die perspektief lyne van die houtvloer en die donker muurhangsel wat die dame van haar bediende skei, skep diepte. Die kleiner uitbeelding van die twee bediendes skep ook diepte. Die kleure is uitsonderlik warm en ryk. In hierdie werk skep die kleur vorms en nie lyne nie. Hierdie Venus is ’n tydlose simbool van ideale vroulike skoonheid.
TITIAN, VENUS OF URBINO,1538. OLIE OP DOEK VISUELE KUNSTE 2011