Kort voor en tydens die Hellenistiese tydperk is Griekeland verander deur die kennismaking met ’n groot aantal verskillende kulture. Die uitbreiding van die landsgrense het ook die kuns beïnvloed. Dit word gekenmerk deur ’n verfynde vorm van tegniese vaardigheid en realisme. Die beeldhouers van die tydperk het die uitbeelding van herkenbare gelaatstrekke en liggaamstaal ondersoek. Hulle het individuele tipes mense gebruik wat heersers, digters, filosowe, kinders, ou mense, vreemdelinge, ens. oortuigend voorgestel het. Die nuwe belangstelling in realisme het die kunstenaars gelei om alledaagse tonele weer te gee in plaas van die geïdealiseerde wêreld van skoonheid wat met die gode geassosieer is. Die uitdrukking van beweging en intense gesigsuitdrukkings word gemeng met die tema van lyding. Hellenistiese beeldhouwerke was ’n belangstelling in melodramatiese onderwerpe. Kuns het begin verander vanaf iets wat deur ’n doel, soos godsdiens, oorheers is tot iets wat geskep is vir geen ander doel behalwe as om estetiese plesier te verskaf nie.
HELLENISTIESE BEELDHOUKUNS: LAOCOON
In vergelyking met die kalm harmonie en balans van Klassieke beeldhoukuns, mag werke uit die Hellenistiese tydperk oordrewe en emosioneel voorkom.
Die Laocoön-groep is ’n beeldhouwerk uit die Laat Hellenistiese tydperk. Hierdie werk is vanaf 42 tot 20 v.C. deur die Rhodiane, Hagesadrus, Polydorus en Athenodorous, geskep. Dit het ’n duidelike invloed op Renaissance kunstenaars soos Michelangelo gehad nadat dit in 1516 in Rome ontdek is. Die heroïse, worstelende figure stel ’n Trojaanse priester, Laocoön en sy seuns, Antiphantes en Tymbraeus, voor. Die priester het een van die gode uitgetart en is toe gestraf deurdat die god twee seeslange gestuur het om hom aan te val toe hy ’n offer by ’n altaar wou bring. Dit word algemeen aanvaar dat dit Poseidon of Athena was wat hom gestraf het omdat hy sy medeburgers vertel het van die Grieke se plan met die houtperd.