Hlungwani kombineer die verskillende fasette van die storie van die skepping van Adam en Eva asook die geboortes van Kain en Abel. Hierdie groep figure is gevorm uit ’n enkele boomstomp. Volgens Hlungwani het hy Adam en Eva se liggame in een vorm gekombineer omdat Eva uit Adam geskep is, maar hy het ook ’n moderne assosiasie geskep deur te sê dat hierdie verenigde vorms ook die Suid-Afrikaanse nasie simboliseer. Eva se bolyf en kop word deur Adam se arms omraam. Dit wil voorkom of Adam se arm die klein vrouevorm beskerm, maar hy hou ook ’n eier in elke hand vas. Hierdie naasmekaarstelling van Eva en die eiers lok onmiddellik die reaksie uit dat die werk iets met vrugbaarheid en geboorte te doen het. Maar Hlungwani verskaf sy eie unieke persoonlike simbolisme deur te sê dat die eiervorms ingesluit is omdat hy wil hê mans en vroue moet mekaar behandel asof hulle so broos soos eiers is en nie asof hulle klippe is nie. Kain en Abel se bene is vasgeheg aan hulle pa se bene en kan net herken word omdat hulle voete te voorskyn kom uit Adam se enorme kuite. Die vorms van Kain en Abel kon net sowel deur die natuurlike vorm van die boomstam voorgestel word, wat hulle ’natuurlike uitgroeisels’ sou gemaak het.
JACKSON HLUNGWANI, ADAM AND THE BIRTH OF EVE, 1985. HOUT