Vanaf 1914 het ’n Britse argeoloog, Katherine Routledge, en ander argeloë ondersoek ingestel oor die eiland se geskiedenis, legendes en steenkoppe. Deur radiokoolstofdatering op gebruiksartikels te doen, is daar vasgestel dat die eerste mense wat na die eiland toe gekom het tussen die 4de eeu en die 7de eeu n.C. was. Hulle was afomstig vanaf ander Polinesiese eilande in die Stille Oseaan. Die platforms waarop die koppe geplaas is, is ook om en by daardie tyd gebou terwyl die eerste koppe eers gebou is na 1000 n.C. ’n Mens wonder waarom. Vir wat anders kon die platforms gebruik word?
Altesaam 1 000 koppe, of oorblyfsels van koppe, is gevind. Na 1680 is daar nie koppe opgerig nie aangesien die gemeenskap ineengestort het as gevolg van stamoorloë en slawerny. Dit beteken dat ongeveer twee koppe ’n jaar oor ’n tydperk van 500 jaar gekerf is.
Al die koppe staar na die land toe, alhoewel baie van die koppe naby die see staan. Die koppe is tussen twee en 11 meter groot. Hulle het almal dieselfde voorkoms met ’n langvormige kop en bolyf, ’n ken en lang ore. Hulle arms is teen hulle liggame of rus op hulle mae. Party koppe het nog oë wat gemaak is van wit en rooi stene of koraal. Ongeveer 70 van die koppe het ’n soort hooſtooisel aan wat uit vulkaniese rots in ’n steengroef gemaak is en wat van heilige belang kon wees. Aangesien daar net ’n paar van hulle is wat hooſtooisels dra, word daar aangeneem dat hulle stamleiers verteenwoordig het.
In die binneste kern van die Rano Raka-vulkaan is daar ongeveer 400 gekerfde koppe. Dit is nie duidelik hoe die eilandbewoners hierdie koppe vanaf die kus daarheen beweeg het nie as daar so min bome was waarop dit gerol kon word nie. Een onvoltooide kop is 20 meter hoog en daar word beraam dat dit 270 ton weeg! In die steengroef is daar gepunte stene wat in die rotswand ingedruk is en dit dui aan hoe dit uitgegrawe is.
Daar is aangeteken dat houttablette met ´n soort hiëroglief daarop wat Rongo Rongo genoem word, asook ander hou- tartefakte gevind is, maar meeste van hulle is deur ´n priester verbrand wat op die eiland gaan bly het.
Daar is 26 oorblywende Rongo Rongo-artefakte met ´n totaal van 1 600 tekens wat daarop verskyn. Die tekens word egter beskou as ´n ritualistiese ‘taal’ in plaas van ´n geskrewe taal. Die geskiedenis van die stamme wat op die eiland gebly het en die rede waarom hulle koppe uitgekerf het, is onduidelik, veral aangesien die bevolking tot so ´n mate afge- neem het dat ´n sterk kulturele geskiedenis nie oorleef het nie.