damian Hirst is deur die Asteek-mosaïekskedels geïnspireer om sy werk te skep. For the Love of God is ’n platinumvorm van ’n menseskedel wat versier is met 8 601 diamante. Dit het die kunstenaar $28 miljoen gekos om hierdie kunswerk te maak. Hirst het die skedel, wat hy as ’n basis vir sy werk gebruik het, in ’n winkel in Londen gekoop. Dit is vermoedelik die skedel van ’n Europeër wat tussen 1720 en 1810 gelewe het. Die dood is ’n deurlopende tema in Hirst se werk. Hy is hoofsaaklik beroemd vir sy Natuurstudie- reeks waarin dooie diere, soos ’n haai, ’n skaap en ’n koei in formaldehied bewaar is.