‘Geletterdheid’ verwys gewoonlik na die vermoë om te kan lees en skryf, maar dit kan ook dui op die vermoë om soorte tekens te kan ‘lees’, soos byvoorbeeld beelde. Die toename van beelde in ons kultuur – in koerante en tydskriſte, in advertensies, op televisie en op die internet beteken dat visuele geletterdheid (die vermoë om beelde te kan lees) ’n noodsaaklike vaardigheid is.
Die eerste vlak van visuele geletterdheid is eenvoudige kennis: die basiese identifisering van die onderwerp of elemente van ’n foto, kunswerk, ens. Alhoewel akkurate waarneming belangrik is, is die verstaan van wat ons sien en die begrip van visuele verhoudings net so belangrik. Hierdie hoër-vlak visuele geletterdheidsvaardighede vereis kritieke denke en is ook essensieel om enige inhoudsarea te verstaan waar inligting oorgedra word deur visuele formate, soos kaarte.