Die gebruik van die proporsie 9:4 kom in verskeie dele van die gebou voor; wat die Grieke se beheptheid met getalle demonstreer. Daar is ook ander minder sigbare verfynings wat ‘optiese’ verfynings genoem word. Dit is subtiele veranderings wat gemaak is om die stramheid en herhaling van die Doriese orde te vermy. Wat die oog verwag om te sien of dink wat hy sien, is verander. Al die pilare, behalwe die op die punte, is gesentreer onder ’n trigliewe. Die afstand tussen die pilare is verminder sodat al die pilare kon inpas. Daar is ook baie voorbeelde van vertikale- en horisontale lyne wat veronderstel is om pylreguit te wees, maar wat bewustelik effens krom gemaak is. Hierdie afwykings van geometriese perfeksie dra daartoe by dat die gebou stabiel en sterk vertoon.
HIERDIE DEURSNEETEKENING EN DIAGRAM VAN DIE PARTHENON WYS DIE GEGLEUFDE PILARE WAT DIE ENTABLEMENT ONDERSTEUN. AAN DIE BOPUNT VAN ELKE PILAAR IS ’N SUILHOOFDE WAT ONDERSTEUNING BIED TUSSEN DIE RONDE PILAAR EN DIE REGHOEKIGE ENTABLEMENT. DIE ENTABLEMENTE BESTAAN UIT DRIE LAE – DIE ARGITRAAF, DIE FRIES EN DIE KROONLYS. DIE FRIESE VERDEEL IN AFWISSELENDE METOPES EN TRIGLIEWE.
Die beeldhouwerk wat hierdie argitektuur vergesel, kan in drie groepe verdeel word: die hoë reliëf metopes van die Doriese fries; die lae reliëf of die cella fries en die vrystaande kroonlys figure. As ’n gekombineerde groep vertel die beeldhouwerk van die Parthenon die storie van die Griekse verlede sowel as die hede en hulle simboliseer hul hoop vir die toekoms. Die gebou, saam met al die beeldhouwerk, is ’n volmaakte voorbeeld van die balans tussen die menslike en die idealistiese neiging wat die Griekse kunstenaars altyd probeer aanspreek het in hul werk.
HIERDIE REKONSTRUKSIE VAN DIE OOSTELIKE KROONLYS VAN DIE PARTHENON BEELD DIE STORIE VAN ATHENA SE GEBOORTE UIT.