Die materiale wat gebruik is om die mosaïek te maak is ’n bewys van die voortreflikheid van die gemeenskap waarvoor dit gemaak is. Hulle het die vermoë gehad om eksotiese materiale in te voer en daar was vakmanne wat vaardig genoeg was om hierdie kunswek te skep. Beide hierdie faktore word verbind aan die feit dat die Mesopotamiërs vaardig genoeg was om met hulle oorskotkos handel te dryf.
Die twee groot panele word Oorlog en Vrede genoem volgens die narratiewe beelde wat daarop voorkom. Elke kant is verdeel in drie rye wat aan strokiesprente of film herinner. Deur hierdie tegniek word ’n aaneenlopende storie vertel waartydens een gebeurtenis op die ander volg. Elke beeld is so geplaas dat dit nie oorvleuel nie. Die manier waarop party van die figure staan, soos die soldate, word herhaal om groot hoeveelhede te simboliseer. Die figure is meestal in profiel, wat karakteriserend is van die kuns van daardie tyd. Die groot oë trek aandag en word van voor af uitgebeeld, soos die bolywe van die figure. Die donkies voor die oorlogstrydwaens is in herhaling langs mekaar uitgebeeld om te wys hoe hulle saam as ’n span trek – wat hulle posisie binne-in daardie ruimte beklemtoon. Nog ’n tegniek wat nooit voor hierdie kunswerk gesien is nie, is die manier waarop die kunstenaar wys hoe die donkies beweeg deur eers te stap, dan te draf en uiteindelik te galop.
Dit is veral die paneel wat Vrede genoem word wat die klassestruktuur van daardie era uitbeeld. Hierdie beeld wys op die ontstaan van die klassestruktuur wat beskou kan word as die grondslag van die organisering van klas in die res van die wêreld. In die twee rye aan die onderkant van hierdie paneel staan mense in toue om hulle produkte af te wys, insluitend vis, skape en osse vir die koning. In die boonste ry vier die koning fees saam met die priesters, die adel van daardie tyd. Hulle drink en word vermaak deur iemand wat op ’n lier speel.
Die koning kan deur sy grootte geïdentifiseer word. Hy is die grootste figuur, en breek selfs die grens van die paneel. Terwyl die landwerkers hulle skulde betaal deur hulle produkte op te veil, vier die koning en die priesters hulle sukses. Hierdie klassestelsel van heerskappy van een groep wat mag eis, het ontstaan as gevolg van verskyning van ’n priester- en krygerklas. As ’n oorskot voedsel geproduseer is, is party mense toegelaat om nie meer by voedselproduksie betrokke te wees nie. Die organisering van ’n stelsel om orde in die nuwe stede van Mesopotamië te skep, het ook beteken dat die winste versprei en beskerm moes word. Dit het die onderwerp vir die ander paneel, Oorlog, verskaf.
Hierdie paneel beeld die geweld uit wat onderliggend aan die welvaart is. In hierdie paneel is die koning die bevelvoerder van die weermag en is hy weer die grootste figuur. Hy het nou ’n vollengte kleed aan en hou ’n groot spies vas. In ’n deel van die eerste en tweede rye, word gevangenes deur voetsoldate tot slawerny of tot hulle dood gelei. Die gevangenes is kaal en hulle liggaamshouding druk hulle vernedering uit. In die onderste ry jaag soldate in strydwaens oor die kaal liggame van die vyand.
WOORDELYS
NARRATIEF is die skep van ’n storie deur dit in ’n reeks fiktiewe of nie- fiktiewe gebeure deur praat, skryf of prente te vertel.
GEÏLLUSTREERDE
RUIMTE is die denkbeeldige ruimte wat geskep word binne-in ’n tweedimensionele kunswerk of die oppervlak binne die grense van die kunswerk.
PROFIEL is die kantaansig van ’n voorwerp of persoon.
STANDAARD is ’n kleed of banier wat gebruik word om ’n groep te identifiseer.