Die nisse in die drommuur gee die indruk van ruimte na buite. Die sewe nisse is elk opgerdra aan een van die sewe hemelse gode. Elke nis is versier met ’n Korintiese steunpilaar aan weerskante en vier paar Korintiese pilare soos die in die voorportaal. Die boonste deel van die drommuur is versier met steunpilare wat die nisse en panele omraam en dit ondersteun ’n kroonlys waaruit die koepel styg.
Die yslike koepel bestaan uit swaar beton aan die onderkant en hoe hoër die koepel gestyg het, hoe ligter het die materiaal wat gebruik is, geraak. Heelbo is ligte, porieuse puimsteen gebruik. Aan die binnekant is die koepel bedek met reghoekige panele wat as koffers bekendstaan. Die 140 koffers is in vyf rye, wat al kleiner na boontoe raak, gerangskik. Afgesien daarvan dat dit bydra tot ’n afname in gewig, dien dit ook as versiering en beklemtoon die opwaartse lyne. Dit fokus die aandag op die hoofenmerk van die koepel, nl. die oculus. Hierdie ronde opening met ’n deursnee van 8.3m is die enigste bron van lig aan die binnekant. Oculus, wat oog beteken, stel die hemelboog voor en die feit dat die tempel aan die sewe hemelse gode opgedra is, maak dit nog meer betekenisvol. Die ligstraal wat bedags stadig deur die gebou beweeg, maak die aanskouer bewus van die hemelse krag asook die verloop van tyd. Wanneer dit reën, val die water reg in die gebou en word dan weggevoer in dreinpype wat terugdateer uit die Romeinse tye.
Hierdie gebou is gelukkig nie afgebreek nadat dit in die 7de eeu in ’n Christelike kerk omskep is nie. Sedertdien het dit as inspirasie gedien vir die Bisantynse en Renaissance argitekte en meer onlangs in burgerlike en godsdienstige geboue in Europa en Amerika.
WOORDELYS
SEWE HEMELSE GODE van die Romeine is: Saturnus, Jupiter, Mars, Venus, Mercurius, Diana en Apollo.