Mense het ’n gevoel van identiteit ontwikkel omdat hulle deel was van ’n gemeenskap wat saamgevoeg is deur die formasie van ’n stadstaat waar ’n heersende koning die mag gehad het. Op daardie stadium was enige vorm van menslike mag onderhewig aan die mag van spiritualiteit en die gode – en dit moes deur die heersende monarg erken word. Die leiers van Mesopotamië is nie as gode beskou nie, maar eerder as verteenwoordigers van die gode. Daar het nie ’n formele aanstelling van konings op daardie stadium plaasgevind nie en as gevolg van die gereelde oorloë tussen die stadstate en die onbestendige uitkomste van hierdie magstryde, het meeste Mesopotamiërs onsekerheid oor die veiligheid van hulle toekoms ervaar, ten spyte van die ontwikkelende “samelewing”.
Die Mesopotamiërs het in ’n groot verskeidenheid of panteon van gode geglo. Elke god het een van die kreatiewe en destruktiewe kragte van die natuur verteenwoordig. Elke stad was onder die beskerming van een van hierdie gode en die gemeenskap van daardie stad was slegs in diens van daardie spesifieke god. Hierdie god is beskou as die eienaar en die heilige heerser van die gemeenskap en die stad.
Die priesters het die koning bygestaan met die organisering en beheer van die gemeenskap. Hulle het seggenskap gehad oor belangrike gemeenskaplike hulpbronne soos landbou-implemente en diere wat aan die gemeenskap beskikbaar gestel sou word indien nodig. Hulle het die verspreiding van gemeenskaplike kos beheer en moes voedsel in die geval van hongersnood stoor. Die hiërargie van mag, was ’n georganiseerde stelsel. Die gode was die opperste heersers met die konings en die priesters as hule helpers. Dit het bygedra tot die ontwikkeling van formele reëls wat die gebruik van godsdiens gereguleer het. Elke gemeenskap, met hulle god as die rede vir hulle bestaan, het die individu teen die natuur en vyandige mense beskerm.
Die hiernamaals is beskryf as ’n wêreld onder die aarde waarheen elkeen sou gaan wanneer hulle gesterf het. Die Mesopotamiese geloof het nie ’n paradys in die hiernamaals gehad nie; slegs ’n oordragsfase van donkerheid en stof waar die dooies enige vorm van geluk kon ervaar. Hulle kon selfs hongersnood ervaar indien hulle familielede hulle nie geëer het deur kos op te offer nie. Die Mesopotamiërs het hulle gode as verlangse wesens ervaar. Die gode moes gevrees en gedien word al het die hiernamaals niks gebied wat die mense beloon het vir die lyding wat hulle op aarde ondervind het nie.
VISUELE KUNSTE 2011
In die antieke gemeenskappe is kuns altyd beïnvloed deur godsdiens en geskep in diens van godsdiens. Die hoofdoel van kuns is gevorm deur die idee dat dit magiese-godsdienstige eienskappe gehad het. Mense het godsdiens as die konstante verwysingsfaktor in hulle lewens gebruik. Gevolglik is die oortuiging gestaaf dat kuns die mag van toweragtige eienskappe in diens van godsdiens bevat het. Kuns is oorwegend geskep om die gode te eer en om die gelowiges te beskerm. Kuns is ook geskep om die konings te eer wat in diens was van die gode (as hulle verteenwoordigers op aarde).
Daar was wêreldwyd baie groepe mense wat geglo het dat iets verstaan of besit kon word indien dit ’n naam gegee is. Getrou aan hierdie geloof, het prehistoriese rotskunstenaars bokke op die mure van hulle grotte geverf as aanduiding van besitting. Inskripsies het getoon dat die Sumeriërs geglo het dat ’n beeldhouwerk nie net ’n afeelding van iets was nie, maar dat dit ook ’n “lewe” van sy eie gehad het. Die god wat deur die beeldhouwerk uitgebeeld is, was self daarin teenwoordig. Dieselfde geloof het gegeld vir die uitbeelding van menslike konings. Hierdie uitbeeldings is gebruik om die guns van die gode te verkry. Mesopotamiese kunstenaars het hulle vaardighede van geslag tot geslag oorgedra.