SKEP ’N STORIE OOR JOUSELF WAT JY IN VISUELE BEELDE MOET UITDRUK
Om te besluit watter storie jy wil vertel, moet jy met jou BRONBOEK begin. .
Soek ’n narratiewe kunswerk waarmee jy kan identifiseer. Maak ’n afdruk van die kunswerk of maak ’n vinnige skets daarvan en plak dit in jou bronboek. Vertel jou weergawe van die storie in die kunswerk deur dit in jou bronboek neer te skryf. Verduidelik waarom hierdie kunswerk betekenisvol is en hoe jy tot die storie aanklank vind.
KIES TEN MINSTE TWEE VAN DIE VOLGENDE AKTIWITEITE OM IN JOU BRONBOEK TE DOEN
• Maak ’n breinkaart waarin jy die storie van jou lewe vertel – kies gebeure wat jou beïnvloed het en wat onvergeetlik is.
• Kry ’n verskeidenheid voorwerpe wat deel van jou lewe is. Maak vinnige, miniatuursketse daarvan en verduidelik waar en hoe dit joune geword het en waarom dit van waarde vir jou is.
• Wat is die mees vernederende ondervinding wat jy al gehad het? Beskryf die gebeurtenis in besonderhede.
• Beskryf ’n plek wat jy altyd sal onthou – dit kan ’n vreesaanjaende plek, ’n rustige plek of ’n geheime plek wees.
• Wat sou jy oor jouself wou verander? Waarom sou jy dit wou verander? Wat het jou gevoel van ontevredenheid veroorsaak?
Nou moet jy besluit watter storie as ’n kunswerk gebruik kan word. Kies die verhaal wat jou die meeste interesseer en maak ’n reeks oefensketse waarin jy die volgorde van die gebeurtenisse uitbeeld. Onthou dat jy meer as een blok kan gebruik om oor die verskillende gebeure in die storie te vertel OF jy kan ook ’n storie as deel van ’n samestelling vertel. Bespreek die uitkoms van jou voorbereidingsketse met jou onderwyser om te besluit wat geskik sal wees vir ’n finale kunswerk.
Jy moet saam met jou onderwyser besluit watter grootte, formaat en medium jy gaan gebruik.