Die versameling van 175 panele van kleurvolle gebrandskilderde glasvensters vervang die kuns van mosaïek of muurskilderye soos in ander kerke gesien. Die effek van lig wat deur die verskeidenheid kleure filtreer, is inspirerend. Deur minerale by die glas te voeg terwyl dit in ’n gesmelte toestand was, is hierdie kleure verkry. As die glas teen die lug gesien word, kom dit deurskynend voor terwyl die lood en yster wat gebruik word om die dele glas saam te voeg, opaak swart buitelyne word wat die figure omlyn. Die ontwerpe van die vensters is verwant aan die ontwerpe gesien in mosaïek en manuskripverlugting.
BINNEKANT VAN DIE CHARTRES – DIE GEBREK AAN MURE HET MEER SPASIE GESKEP VIR GEBRANDSKILDERDE GLASVENSTERS.
Soos met die ander beelde aan die buitekant, is die onderliggende tema van die vensters die toewyding van die kerk as ’n altaar vir die Maagd Maria. Gilde verteenwoordigend van die verskillende soorte handel het al die vensters geskenk. Elke gilde het ’n beskermheilige aan wie se lewe en wonderwerke hulle die venster wat hulle geskenk het, opgedra het. Die Roos-venster in die noordelike portaal was, soos die standbeelde aan die buitekant, opgedra aan die Maagd Maria.
DIE ROOS-VENSTER VAN DIE NOORDELIKE PORTAAL IS OPGEDRA AAN DIE MAAGD MARIA.