Kunstenaars is beskou as hoogs bekwame vakmanne en is daarvoor bewonder, en nie vir hulle kreatiwiteit of idees nie. Hulle was ook belangrik geag omdat hulle gespesialiseerde rituele moes opvoer – wat bygedra het tot die mag van ’n standbeeld asook die manier waarop dit “lewe” gekry het. Kunstenaars moes oor die kennis beskik om suksesvol die korrekte prosedures te kon volg, insluitend aspekte soos die gebruik van spesifieke materiale.
WOORDELYS
MAGIESE-GODSDIENSTIGE EIENSKAPPE word geassosieer met voorwerpe of mense wat ’n mag het wat geassosieer is met spiritualiteit en wat nie as deel van die rasionele wêreld verduidelik kan word nie.
PANTEON VAN GODE verwys na ’n groep gode. In Mesopotamië was party van die belangrikste gode An, die god van hemel en aarde; Enlil, die god van lug; Enki, die god van vars water, manlike vrugbaarheid en kennis; Inanna, die godin van seksuele liefde, vroulike vrugbaarheid en oorlogvoering; en Ka, die godin van die aarde.
3 Kunsmateriale
Die verskillende kunsvorms in Mesopotamië is beperk deur die materiale wat die aarde in daardie streek opgelewer het. Aangesien hout baie skaars was, was steen die tweede keuse vir materiaal, alhoewel Mesopotamië dit ook nie in oorvloed gehad het nie. Volgense aantekeninge was die doel van baie militêre ekspedisies om sekere materiale soos ’n verskeidenheid stene te vind wat gebruik is vir beeldhouwerke en dekoratiewe kunswerke. Duursame harder stene soos dioriet is vanaf die Persiese Golf ingevoer. Kalk- en sandsteen was vryelik beskikbaar in Mesopotamië en gips-albaster was in Assirië beskikbaar. Die gebrek aan ’n verskeidenheid soorte harde steen het gelei tot die skep van standbeelde wat oor die algemeen klein was. Edelstene soos agaat, lapis lazuli en karneool is gebruik om klein voorwerpe soos silinderseëls te skep en moes ingevoer word van dele verder oos, soos Afganistan en Indië.
Aangesien daar klei was, is geboue gevolglik met kleibakstene gemaak wat in die son gedroog is aangesien die skaarsheid van brandstof die mense nie toegelaat het om die bakstene te brand nie. Baie van hierdie brose geboue het verdwyn of onvolledige murasies is nog sigbaar. Die vroegste kunswerke was kleistandbeelde. Bitumen staan ook bekend as asfalt of teer en is ’n swart, olierige materiaal wat ’n natuurlike byproduk is van ontbinde organiese materiaal. Dit kom wydversprei in die Midde-Ooste voor. Dit is deur die geskiedenis in Irak en Iran gebruik as ’n verseëlaar, kleefstof, messelklei en is ook aangewend as versierings op potte, geboue of mense se velle.
WOORDELYS
DIORIET is ’n donker, kristalagtige rots met ’n grantietagtige tekstuur.
LAPIS LAZULI is ’n halfedelsteen met ’n helder blou kleur wat in Afganistan en Siberië gemyn word.
RELIËFSTANDBEELDE is kunswerke waaruit die agtergrond bestaan uit figure wat gekerf is sonder om hulle uit die agtergrondvlak te verwyder. Daar is drie vorms van reliëfeeldhouwerk. Met basreliëf of lae reliëf staan die standbeeld net effens uit die agtergrond uit, in alto-reliëf of hoë-relief is deel van die standbeeld driedimensioneel en het dit ’n agtergrond waaraan dit geheg is; intaglio of versonke reliëf is wanneer die beeld in die oppervlak ingekerf is, met ander woorde, versonke buitelyne het.