142 9 Praktiese Assesseringstaak: Vertel jou eie storie
Die kuns van storievertel is in prente uitgedruk voordat dit neergeskryf is. Visuele beelde is toeganklik tot almal. Alhoewel die konteks van ’n kunswerk nie altyd bekend is aan die kyker nie, hoef hy of sy nie dieselfde taal as die kunstenaar te praat of dieselfde kultuur as die kunstenaar te hê om ’n boodskap te kry deur na die kunswerk te kyk nie. Kunstenaars deur geskiedenis was instrumenteel daarin om idees oor te dra oor die oorsprong van die wêreld en die betekenis van die lewe van mense deur stories te vertel. Belangrike historiese gebeurtenisse en die mag van leiers is ook verewig deur visuele narratiewe soos gesien in die reliëfwerke van die Assiriërs.
Die werke van die Makhubele- familie is baie bekend. Die beelde op hulle mincekas fokus op die politieke geskiedenis van die African National Congress (ANC) en op die begin van die demokratiese regering in Suid-Afrika. Nelson Mandela is ’n gewilde bron van inspirasie vir hulle werke. Sy troue met Graça Machel en ander mylpale in sy lewe word herdenk.
JANE MAKHUBELE, TOGETHER FOREVER NELSON MANDELA AND GRACA MACHEL, 1998, KRALE OP MATERIAAL
Die narratiewe en herdenkingskenmerke het ook ontwikkel in die tradisionele kunswerke van die Tsonga-Shangaan-nasie in Suid- Afrika. Die tekstielmantels of die minceka is tradisioneel gedra, onder een arm gedrapeer en aan die bokant van die teenoorgestelde skouer vasgemaak. In moderne tye dra vroue kommersieel gedrukte materiaal, maar die minceka word nog vir spesiale geleenthede versier met krale en borduurwerk. Alhoewel hierdie materiaal deur die Tsonga-Shangaan-vroue versier is met patrone en beelde deur krale, spelde, spieëls en ander voorwerpe op donkerblou materiaal aan te werk, het hulle nie bedoel om kunswerke daarvan te maak nie. Dit het egter nou gewild geword as uitgestalde kunswerke as gevolg van die nuwe ikonografie wat deur die vroue gebruik word.
Die beelde wat gebruik word, is soortgelyk aan foto’s wat vir koerante geneem word van hierdie onvergeetlike oomblikke in Suid-Afrika, maar die kunstenaars verleen individuele karakter aan die werke. Behalwe die gebruik van moderne beelde en nuwe materiale, het kunstenaars ook begin om hulle name en geboortedatums op die materiaal te borduur. Sodoende kry die minceka ’n moderne karakter as iets uniek wat geskep word deur ’n bekende individu uit te beeld. Dit is in teenstelling met die tradisionele werke wat ’n gestileerde, dekoratiewe patroon gevolg het - wat nie baie individualiteit getoon het nie.