Papirus in die vorm van perkamentrolle was nog ’n oppervlak wat gebruik is om op te verf. In baie grafelders, was hierdie perkamentrolle die oorledene se Boek van die Dood wat die eienaar gehelp het om die hiernamaals te bereik en hom of haar in die laterlewe te beskerm. Die styl en onderwerp van die skilderye van die Boek van die Dood is soortgelyk aan die muurskilderye wat in die grafelders ontdek is, hoewel dit soms minder detail bevat as die veel groter muurskilderye. ’n Voorbeeld van ’n deel van so n perkamentrol is vanaf 1295 v.C. tot 1186 v.C. uit die Nuwe Koninkryk in Tebe gedateer. Die titel daarvan is Boek van die Dood, Papirus van Ani: Ani se Oordeel. In hierdie boek het die oorledene sy onskuld verklaar en dit sou gebruik word wanneer die oorledene van die lewe tot die ryk van die dood sou gaan. Hierdie papirus van Ani beeld die oomblik uit wanneer Ani, ’n koning se skrywer, veroordeel word en aan die god Osiris bekend gestel word. Ani en sy vrou woon altwee die seremonie by deur die toneel vanaf die linkerkant af binne te kom, terwyl hulle in eerbied buig. Ani is besig om ’n towerspreuk wat aan sy hart, wat in die skaal is, uit te spreek. Die sentrale fokus van die toneel is die skaal wat Ani se hart aan die linkerkant uitbeeld en ’n veer aan die regterkant. Die veer verteenwoordig Maat, die heilige personifikasie van waarheid en orde. Die god Toth word twee keer in hierdie toneel uitgebeeld – as ’n bobbejaantjie op die regop ondersteuning vir die dwarshout van die skaal. Hy het iewers anders in hierdie verhoor ’n rol om te vervul. Die god Anubis word uitgebeeld as ’n figuur met ’n menslike liggaam en die kop van ’n jakkals. Hy hou die regterkantste pan en die peil van die skaal vas. Aan die regterkant van Anubis verskyn Toth weer, die keer met ’n menslike liggaam en die kop van ’n ibis. Nou word hy uitgebeeld as die skrywer van die gode, en hou hy ’n skrywerspalet en ’n rietborsel vas, slaggereed om die resultate van Ani se ondervraging neer te skryf. Die monster wat agter Toth sit, is gereed om van sy mat af te spring en Ani se hart te verorber indien hy nie die toets slaag nie. Hierdie wese het die kop van ’n krokodil, die voorste deel van ’n leeu en die agterdeel van ’n seekoei. Ani se siel of ba-voel sit op ’n gebou wat in die vorm van ’n altaar is. Hy is gereed om vrygelaat te word indien die vonnis in Ani se guns gefel word. Die groot gode van Egipte sit formeel in ’n ry, en wag om hulle oordeel te gee.
VISUELE KUNSTE 2011
BOEK VAN DIE DOOD, PAPIRUS VAN ANI: ANI SE OORDEEL, C. 1295 V.C. TOT 1186 V.C.
WOORDELYS
DEKORATIEWE is ’n ornamentele versiering.
PAPIRUS is die papier wat deur die Egiptenare gemaak is van stroke van papirusriet wat in lae bo-op mekaar geplaas is en saamgedruk is om ’n stewige oppervlak vir perkamentrolle te vorm.