Die reliëf wat agter die koning se troon geplaas is, beeld Ashurnasirpal se verhouding met die gode uit. ’n Beskermende gees word aan albei kante van die reliëf uitgebeeld wat Ashurnasirpal seën deur vloeistof oor hom te sprinkel deur ’n keëlvormige voorwerp uit ’n rituele emmer te gebruik. Die koning word twee keer in hierdie toneel uitgebeeld, amper soos ’n spieëlbeeld aan beide kante van die Boom van Lewe. Sy ritualistiese kleed en staf simboliseer sy oppermag en die ring in sy een hand verwys daarna dat sy koningskap godgegewe is. Aan die regterkant maak hy ’n gebaar van eerbied aan ’n god in ’n skyf met vlerke; in die boonste middelgedeelte van die reliëf. Die god is moontlik Ashur, die nasionale god of Shamash, die god van die son en geregtigheid.
Die koning word weer eens hier uitgebeeld as die onoorwinbare veroweraar van die magte van die bose, hierdie keer in die natuur. Sommige van die konvensies wat gebruik is om sekere gelaatstrekke uit te beeld, is aangewend volgens ’n reeks gevestigde patrone wat ook sigbaar is in Die Standaard van Ur. Al die figure lyk of hulle vorentoe beweeg alhoewel hulle uitgebeeld word waar hulle met een voet voor die ander een staan. Die koppe van die figure is altyd in profiel; die oog word uitgebeeld soos wat dit van voor af gesien word.
’N RELIËF IN GIPS, 178CM HOOG, IS GEKRY AGTER DIE TROON IN DIE PALEIS VAN ASHURNASIRPAL II IN NIMROD, 9DE EEU V.C.
Aan die linkerkant blyk dit of die figuur van die koning na iets beduie wat waarskynlik die Heilige Boom is wat die middel van die paneel domineer. Die stilistiese kombinasie van stingels en plantegroei is simbolies van die vrugbaarheid en die oorvloed wat deur die gode voorsien is. Die implikasie van hierdie toneel is dat die koning ’n hegte verhouding met die gode het en dat hy om daardie rede die bron van oorvloed was.
Oorlog en jag is die onderwerpe van ander reliëfeeldhouwerk in Ashurnasirpa Il se paleis. Baie van die werke is aantekeninge van die manier waarop hy die Assiriese Ryk uitgebrei het. Die direkte geweld van die stryd vind gewoonlik rondom die koning plaas – wat verwyder van die gebeure is deur op ’n veilige afstand in die strydwa te bly. Die kunstenaar het ook begin om oorvleuelende perspektiewe te gebruik deur die koning voor die offisiere te plaas, wat sy belangrikheid verder beklemtoon het. In een van die jagtonele maak die koning ’n aggressiewe leeu met sy pyl en boog, vanuit ’n bewegende strydwa, dood. Die dramatiese effek van ekspressiewe beweging wat in die liggame van die leeus uitgebeeld word, is in sterk kontras met die mag van die koning wat vanaf ’n afstand plaasvind.
VISUELE KUNSTE 2011
DIE RELIËF WYS HOE ASHURNASIRPAL II LEEUS JAG
’n Gekombineerde voor- en kantaansig word gebruik om die skouers uit te beeld. Verdere gestileerdheid is sigbaar in die manier waarop die hare, baarde en klere as vereenvoudige patrone uitgebeeld word. Die vergrote proporsies van die figure beklemtoon die spiere van die arms en die kuite. In al die reliëfwerke dra die gebruik van gestileerdheid by tot die verheerliking van die koning.