Die Chartres-katedraal is een voorbeeld van Gotiese argitektuur waar die kruisgeribde gewelfde plafon opgehou word deur ’n skeletstelsel van ondersteunings van saamgestelde steunpilare, wat op sy beurt ondersteun word deur vlieënde stutmure aan die buitekant van die gebou. Die vloerplan is kruisvormig en bestaan uit ’n drieverdieping-skip en kort dwarsvleuels na die noorde en die suide. Dit is gerond in die oostelike kant met vyf halfsirkelvormige kapelle wat daaruit strek. Die buitekant van die westelike kant word oorheers deur kontrasterende torings. Die eenvoudige piramiedstyltoring dateer terug na die 1140’s terwyl die ander een herbou is in die Flambojante styl in die 16de eeu nadat die vorige toring deur weerlig getref is.
WESTELIKE VOORAANSIG VAN DIE CHARTRES
Die Chartres-katedraal wat in ’n klein landelike dorpie geleë is, het mense van oral af gelok deur die altaar van die Maagd Maria wat glo die sluier wat sy gedra het, bevat het. Soos met ander Gotiese katedrale, is die Chartres die spirituele en geografiese middelpunt van die dorp. In die Middeleeue is dit omring deur die Biskop se paleis, katedraalskool, klooster, blyplek vir reisigers en ’n aalmoeshuis om die armes te help. Aan die westelike vooraansig was daar ’n markplek. Die dorpsmense het bygedra tot sommige van die boumateriale en arbeid terwyl die gildes die vensters en standbeelde geskenk het. Die kerk was ’n manifestasie van die trots van die gemeenskap en het die Eeu van Geloof gesimboliseer.