189 6 Verband met Suid-Afrikaanse Kuns: Alexis Preller en Judith Mason ALEXIS PRELLER
Alexis Preller, ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar, het in sy voortdurende soeke na nuwe tipes kuns uitdrukking, inspirasie geput uit ’n verskeidenheid kulture en die antieke simbole van hierdie kulture. As Suid-Afrikaner, het hy noue kontak met tradisionele, inheemse volke soos die Ndebele en die Swazi’s gehad. Hy is deur hulle leefwyse, tradisionele kleredrag en versierings, omgewing, sowel as aspekte van hulle tradisionele geloofsoortuigings en simbolisme geïnspireer. Hy het nie net voetstoots gekopieer wat hy gesien het nie. Die werke wat hy geskep het, was eerder sy persoonlike reaksie daarop. Hy het ’n persoonlike styl geskep waarin die invloede van die westerse, moderne skilderkuns, soos Surrealisme, sigbaar was terwyl hy ook gebruik gemaak het van Modernistiese abstraksie. Maar dit was nie net Suid-Afrikaanse mense en kulture wat hom geïnspireer het nie. Hy het ook simbole en voorwerpe van die verskeidenheid plekke waarheen hy gedurende sy leeſtyd gereis het, gebruik. Al die simbole het sodoende deel geword van sy persoonlike simbolisme.
Die simbole wat hy aan sy skilderye ontleen en herverwerk het, het universeel geword deurdat hy dit herhaaldelik in sy werk gebruik het. Sodoende interpreteer elkeen wat daarna kyk dit vanuit sy persoonlike perspektief. Sy kombinasie van Griekse mitologie, Ndebele kultuur, Afrika maskers en Egiptiese motiewe verteenwoordig ’n antieke heelal waarin fantasie en werklikheid versmelt.
Met Gold Primavera, het hy ’n figuurlike weergawe van die Godin of Gees van die Lente, geskep. Hy ondersoek die onderwerp verder deur die portret op soortgelyke wyse te herhaal en verander slegs die kleure en skaal daarvan. Dit is nie net hierdie twee skilderye wat eenders is nie - hulle stem ook ooreen met ’n ander werk - African Head. Die basiese vorm van die portret word ook in verskeie ander, groter werke gesien. In die opsig word die beeld van hierdie portret ’n embleem, iets wat herkenbaar is, wat herhaaldelik gebruik word en wat verwys na ’n universeel simboliese idee soos Ewige Skoonheid, Vroulikheid of Manlikheid.
ALEXIS PRELLER – GOLD PRIMAVERA, 1967, OLIE EN BLADGOUD OP HOUT, 23 ×18 CM